Biografie
Haidee Muller is op die volstruisdorp Oudtshoorn gebore. “Maak nie saak hoe lank gelede nie,” grinnik sy. Vandag doen dié plattelander twee dinge wat haar nuuskierigheid en belangstelling al sedert haar kinderdae prikkel. Die een is om haar daaglikse brood en botter as joernalis te verdien, en die ander is dat sy deesdae ook as aanbieder agter die mikrofoon inskuif.
Haidee het ’n BA-graad in politiek en sielkunde aan Rhodes Universiteit behaal. Bewapen met ’n nuttelose (soos sy dit noem) graad, begin sy as sekretaresse (wat nie kon tik nie!) by die YOU tydskrif werk. Sy vorder fluks en beweeg na Huisgenoot se advertensieafdeling as advertensieklerk. In 2001 begin haar drome gestalte kry – sy ontvang ‘n Media24-beurs om honneurs in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch te swot. Hierna doen sy 'n internskap by Huisgenoot en die res is geskiedenis. Sedert 2003 werk sy daar as joernalis – ’n joppie waaroor sy gaande is!
Sy is 'n pretmeisie, lief vir uiteet (hoewel sy gedurig oor vetword kla), dol oor resepteboeke (hoewel sy nooit een kan volg nie) en is vreeslik trots op haar baie groot musiekversameling.
e-pos: hmuller@huisgenoot.com


