EposTwitterFacebook

Aanbieders

Helen Ueckermann

Helen Ueckermann
Biografie

Helen Ueckermann is ’n vryskutjoernalis, -mediaskakel en -taalpraktisyn. Sy het die grootste deel van haar loopbaan gewerk as ’n spesialis- finansiële joernalis en ook haar hand gewaag aan teksredigering en koerantuitleg. As joernalis het sy gespesialiseer in persoonlike finansies, saketoerisme, lugdienste, loopbaan- en werkplek-verwante artikels, asook sakeprofiele.

“My huidige bedrywighede fokus hoofsaaklik op mediaskakeling vir ’n geselekteerde groepie maatskappye en organisasies, die skryf van artikels vir ’n verskeidenheid publikasies met onderwerpe wat wissel van persoonlike finansies tot reisartikels en sommer beriggewing oor allerlei interessanthede, en nou ook aanbieder van Rand en Sent.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die geleentheid om Rand en Sent aan te bied omdat mense se geldsake en hoe suksesvol hulle daarmee is, my na aan die hart lê. My hoofmikpunt met die program is om luisteraars die gereedskap te gee om ’n werklike verskil aan hul geldsake te kan maak.”

Helen is voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vryskutvereniging (Safrea) en dien ook in Unisa se buitepaneel van taalkenners.

Voordat Helen as vryskut in die mediawêreld begin werk het, het sy verskeie toekennings verower vir haar werk, onder meer die Sanlam-toekenning vir Uitnemendheid in Finansiële Joernalistiek in nie-finansiële publikasies in 2006 en 2008, die Citadel Words on Money-toekenning in 2008, en die TBCSA Hospitality Investment-toekenning in 2008. In 2009 het sy ’n ATKV Mediaveertjie gewen vir beriggewing oor persoonlike finansies.