EposTwitter

Aanbieders

Leon van Nierop

Leon van Nierop
Biografie

Leon van Nierop is al 44 jaar in die vermaaklikheidsbedryf as omroeper, vervaardiger, regisseur, skrywer in al diemedia, TV-aanbieder en -vervaardiger en rolprentresensent vir verskeie publikasies, radio en televisie. Hy is ook ‘n dosent, was spesiale professor in film en ‘n beoordelaar wat op verskeie panele sit. Hy is ‘n vryskutkjoernalis, doen profiele oor akteurs en kunstenaars en is ‘n reisrubriekskrywer. Hy doen ook teaterresensies.

Drie van sy boeke, Seeing Sense: On Film Analysis, Movies Made Easy en Daar Doer in die Fliek word by universiteite voorgeskryf. Laasgenoemde is vir ‘n kykNet-Ropport Boekeprys benoem, en hy het ‘n spesiale erepenning in 2018 van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die rolprentbedryf en -kuns in Suid-Afrika gekry.

Hy het as radioskrywer begin met treffers soos Wolwedans in die skemer (800 halfuur-episodes), Nag van die Strandloper, Herberg vir ‘n Vlugteling, Stralerjakkers (wat 6 jaar lank uitgesaai is) Ratels (wat 9 jaar lank uitgesaai is) en tans Hartebreker, die radio se eerste mini-vervolgverhaal waarvan al 800 episodes uitgesaai is. Hy het ook verskeie radiodramas opgevoer, waarvan een (Hirosjima Mon Amour) vir hom ‘n ATKVeertjie besorg het as beste regisseur. Hy is die naasprywenner van die RSG-Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir sy drama Twyfelberg. Hy wen ook ‘n Dokumenêre ATKVeertjie vir sy RSG- radioprogram: Die Afrikaanse Film, Gister en Vandag.

Hy skryf verskeie TV-reekse waaronder twee reekse van Ballade vir ‘n Enkeling, asook Wolwedans in die Skemer, Moord op die Lug en Skoolplaastories, asook verskeie TV-dramas soos Jantjie, Laat Vrugte en Het van Verlangekraal.

Hy vervaardig Ballade ir ‘n Enkeling as rolprent wat R10-miljoen verdien, skryf die draaiboek en wen ‘n Tempo-toekenning daarvoor as beste rolprent. Hy skryf ook Wolwedans indie Skemer as rolprent.  Hy skryf ‘n kabaret: Girly se Konstitusionele Kwellings vir verskeie Kunstefeeste. Hy is die medeskrywer en verhoogaanbieder van Leon en Rocco en ander instrumente saam met Rocco de Villiers wat by verskeie kunstefeeste aangebied is. Hy het ook ‘n radioklug geskryf wat by die KKNK opgevoer is.

Hy het 32 romans geskryf waaronder 2 wat in Engels deur Penguinm Uitgewers  vertaal is naamlik Katelknaap/Toyboy en Bloedsuier / Leech. Ander romans sluit in Verklikker, Stralerjakkers, Die Huis in Hertestraat en Snydokter. Hy skryf ook 6 van die land se eerste hygromans onder die skuilnaam Jacqueline Brink. Hy was vir 4 jaar lank hoof en spesiale professor by die TUT Filmskool in Pretoria. Hy het ook al by feitlik elke universiteit en filmskool in die land rolprentwaardering, draaiboekskryf, filmgeskiedenis en ander rolprentvakke aangebied. Hy het die Grahamstadse rolprentefees vir 10 jaar lank aangebied as gasspreker. Hy het op verskeie filmpanele as beoordelaar gedien.

Sy dokumentêre TV-reeks Daar Doer in die Fliek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf vir kykNET word vir ‘n ATKVeertjie benoem en word ook in boekvorm deur Protea Boekhuis en kykNET uitgegee. Dertig episodes is uitgesaai. Hy is mede-aanbieder en opsteller van oor die 1,200 vrae vir die kykNET TV-vasvra-reeks Flieknet Foendies.

Hy is veral bekend vir sy rolprentresensies op Monitor, ‘n rubriek wat hy al vir 43 jaar op RSG aanbied waar hy ook omroeper/nuusleser en regisseur was en is. Hy was die medesamesteller en hoofaanbieder van M-Net se M-Net movies Bucketlist in November 2017. Hy skryf rolprentresensies vir Rapport, RSG. Maroela Media se webblad en nou ook rolprentresensies vir kykNET se Ontbytsake-TV-program. 

Hy reis dwarsdeur die land en skryf vir koerante en tydskrifte oor sy reiservarings. Hy lei tans onderwysers op in rolprentontleding vir Ballade vir ‘n Enkeling wat as matriekfilm vir skole voorgeskryf is.

TOEKENNINGS:
• ‘n Spesiale toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse Vermaaklikheidsbedryf deur die advertensie-industrie in Suid-Afrika in 2000.
• Beste skrywer van ‘n rubriek Caxton Uitgewers in 2009 (onder ‘n skuilnaam)
• Beste skrywer van rubriek vir Caxton Uitgewers in 2011 (onder ‘n skuilnaam)
• Bestw skrywer van rubriek vir Caxton Uitgewers in 2014 (onder ‘n skuilnaam)
• Sy roman Snydokter wen 3 pryse en 2 ATKVeertjies en ‘n Loerie Bronsmedalje vir beste promosie en konsep.
• Hy wen die ATKVeertjie vir sy regie van die radiodrama Hirosjima Mon Amour vir RSG in 2010.
• Hy wen die ATKVeertjie vir beste dokumentêre reeks vir sy radioreeks Die geskiedenis van die Afrikaanse Rolprent Gister en Vandag in 2011
• Naaswenner van die RSG-SANLAM-Radiodrama skryfkompetisie vir sy radiodrama Twyfelberg in 2012
• Benoem vir die Rapport / kykNETprys vir sy roman Vuurvreter.
• Wen die Tempo-toekenning vir die beste rolprent vir Ballade vir ‘n Enkeling.
• Wen ‘n spesiale erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse rolprentindustrie in 2018.