Biografie
Hoe oud is ek?
Soms 18, soms 21 maar op ‘n goeie dag 31!
Wat doen ek?
Aanbieder van Befonk op ‘n Woensdag- en Vrydagaand 20:00. Ek doen bydraes vir Oggend op RSG, Reis Sonder Grense en Ekoforum.
Wat dryf my?
Deursettings vermoë, harde werk, baie trane en die vermoeë om jou eie werk te skep is verseker die goue reel. As jy in die vermaaklikheidsbedryf is en jy het nog nooit gewaiter nie, het jy gekroek!
Jy kan net positief bly as jy glo in wat jy doen en ‘n passie daarvoor het! Wat my gedryf het en nog steeds dryf is die behoefte om ‘n verskil te maak, om mense te bemagtig met inligting. Ek raak nogsteeds opgewonde om in my kar te spring en maklik 200 kilometer ‘n dag agter ‘n storie aan te ry. Om dan iemand nuuts te ontmoet, ‘n nuwe plek te ontdek en iets nuuts te leer is wonderlik!
Zelda Dalling, bekende astroloog het nou die dag vir my gesê toe ek met haar ‘n onderhoud gedoen het oor haar nuwe boek, "Daar is nie ‘n bult nie en daar is nie ‘n bobbejaan nie, let the universe take care of itself," dus hou op om jouself te bekommer oor die toekoms, dinge is presies soos wat dit moet wees.
My beste vriendin Lorraine Burger sê ook altyd, as dit voel asof die lewe druk en jy van jou balkon af wil spring – was skottelgoed, dit doen wondere vir die siel. Viva mater vir daardie raad. Ek het altyd skoon skottelgoed.
Wat is my sterkste en swakste eienskappe?
My sterkste eienskap is dat ek maklik met mense kommunikeer. Of jy nou professor, dokter of my joga instrukteur is – ek is regtig geïnteresseer in wat jy het om te sê. Mense praat maklik met my en deel heel gewillig hul stories en ervaringe met my.
My swakpunte is dat ek geweldig emosioneel raak oor sekere onderwerpe veral diereregte. Louise van der Merwe van Compassion in World Farming het eendag vir my gesê dit help nie om te huil oor wat in laboratoriums gebeur t.o.v toetse op diere nie – jy moet jou trane afdroog en iets daadwerkliks daaromtrent doen! Ek probeer. Ek is ook vreeslik krities op myself en my werk – as ek nie ‘n goue ster kry vir my werk nie, raak ek onseker oor of dit reg is!
My toekomsplanne?
O, ‘n huisie in die bos met wille roosmaryn, suurlemoen malvas en boegoe in my tuin. ‘n Stoepie waarop ek kan sit en in die verte tuur met al my optel diere! Ek is besig met ‘n organiese tuinbou kursus, sal baie graag eendag my eie omgewingsvriendelike skoonheids- en huishoudelike produkte wil maak – wat nie getoets is op diere nie! Maar woorde sal altyd deel wees van my lewe – of dit stories maak, stories skryf, stories vertel of stories verfilm is...
Waar kom my liefde vir diere vandaan?
Aarde, ek dink ek kon skaars loop toe bring ek reeds al wat leef, of half leef en uit ‘n boom uitgeval het huis toe. My arme ouers. Van kleins af het ek diere om my gehad, alhoewel die pediater gesê het ek is hoogs allergies vir honde- en kathare, Ek was histeries, my ma het vir my geknipoog en besef ek sou gouer dood gaan sonder ‘n dier as van hooikoors. Dankie Ma! En voila – ek is nie meer allergies vir diere nie.
Ek het op ‘n baie vroeë ouderdom ‘n vegetariër geword, toe ek nog nie eers geweet het daar is ander mense wat ook nie diere eet nie, wel, voordat ek geweet het mens noem hulle vegetariërs. Op daardie stadium was daar nie al die wonderlike soja produkte wat mens nou kry nie, dit was slaai en rys met tamatiesous. My ouers het hul bes probeer met vleis vrye resepte en om te verstaan waar die middel kind uit die boom geval het, as dit nie vir hul ondersteuning was nie sou ek dit nooit kon doen nie.
Ek onthou hoe ek die middag stom verbaas gesien het dat ‘n kitskosrestaurant op Stellenbosch vegetariese burgers verkoop. Ek het omtrent gesukkel om my eerste burger op 18 geëet te kry!
Die Wessels Welsyn is steeds aan die groei, ek het al verhoudings geruïneer a.g.v. my konstante optel van wollerige lyfies langs die pad en die massiewe veaarts-rekeninge… Maar in hierdie stadium is daar:
- Gogga die amper Jack Russel.
- Vlooi – waarvoor die Vlooi Spaarvarkie Fonds gestig is nadat sy ‘n lewer operasie moes ondergaan. Dit gaan uitstekend met haar en, jip, sy is ‘n vegetariër soos haar ma, papaya haar gunsteling happie.
- Skye – my optelkat van Grassy Park.
- Asouka – my optelkat van Khayelitsha, en
- Black die wel, swart hond wat bietjie soos ‘n koffietafel lyk
Hoe sal ek myself opsom?
Hiperaktief, altyd genoeg kos vir ‘n vriend of vier, soms (my pa sou sê altyd) oor emosioneel maar ‘n passie vir alles waarin ek glo en doen. Ek is baie lief vir my ma Marie en pa PW waar ek gereeld kan afpak en voorraad (meestal kos) kry van die Wessels Superette. My pa het groot geword in ‘n huis met 10 kinders, so hy maak seker daar is altyd ekstra kos, kerse, braai houd, stoele ens. vir die drie Wessels kinders. My sus Helene en boet Pieter is my grootste vriende.
As ek staatspresident was...
Sou ek Nikki Botha van South African Seal Saving Initiative, Tamsin Nell van South African Mass Animal Serilization Trust en Toni Brockhoven van Beauty Without Cruelty my eerste ministers gemaak het.
In my perfekte wêreld...
Sou Foie grass, factory farming, batteryhoenders, produkte wat op diere getoets word, geblikte jag, sirkusse, pels en die mense wat verantwoordelik is vir hierdie wreedhede, verban word van planeet Aarde!


