Programme

TERUG

Gesondheid

Potgooi

Gesondheid 17 Januarie 2018
Woensdag 17 Januarie 2018

‘n Mens sien al hoe meer mense wat e-sigarette rook, of vape. Is e-sigarette veiliger as gewone sigarette? Bevat dit enige kankerwekkende stowwe? Kan dit gebruik word in jou poging om op te hou rook? Marí Hudson praat met ‘n longspesialis oor dié kwessies.

Gesondheid 3 Januarie 2018
Woensdag 3 Januarie 2018

Die ondersoek na die Life Esidimeni-tragedie het die belangrikheid van professionele psigiatriese sorg onder die publiek se aandag gebring. Die 143 sterftes is die sigbare gevolg van verskeie dinge wat onder die oppervlakte is, naamlik die tekort aan psigiaters, die gebrek aan en opleiding in goeie psigiatriese verpleegsorg, en besluitnemers aan owerheidskant se gebrek aan insig om die belang en waarde van professionele psigiatriese sorg en dienste te verstaan, en te reken enige leek kan dit lewer. Marí Hudson praat met ‘n psigiater oor dié kwessies.

Gesondheid 27 Desember 2017
Woensdag 27 Desember 2017

Meer as 500 gevalle en 30 sterftes van listeriose, ‘n soort voedselvergiftiging, is die afgelope jaar aangemeld. Waar kom dié kiem vandaan? Watter kossoort is die bron van die uitbreking? Waarom sterf sommige mense? Marí Hudson gesels met ‘n spesialis oor dié siekte, en sy herhaal inligting oor die nuwe soort middels om tipe 2 diabetes te behandel ná baie luisteraarsnavrae.

Gesondheid 20 Desember 2017
Woensdag 20 Desember 2017

Waarom vererger vars water die brandpyn van ‘n bloublasie? Of waarom hoef jy nie slang-teengif in te pak as jy in die somer in die berg gaan stap nie? Waarom moet jy nie ‘n kind laat braak of melk injaag as hy ‘n gifstof ingeneem het nie? Hoe giftig is giftige plante en spinnekopbyte werklik?

Gesondheid 13 Desember 2017
Woensdag 13 Desember 2017

Marí Hudson vind uit of die krisis weens die tekort aan internposte in hospitale opgelos is, en of byna 300 nuwe dokters sonder poste sal wees. Sy fokus ook op enkele sleutel-gesondheidsboodskappe wat die afgelope jaar na vore gekom het.

Gesondheid 6 Desember 2017
Woensdag 6 Desember 2017

Ons het al almal gehoor van ouer mense wat katarakte ontwikkel en dan lensinplantings kry. Maar wat is katarakte en waarom ontwikkel dit? En hoe presies word lensinplantings gedoen? Mari Hudson gesels met 'n oogarts oor katarakte en die behandeling daarvan.

Gesondheid 29 November 2017
Woensdag 29 November 2017

Hoe weet ‘n mens of ‘n allergietoets, of enige ander ‘mediese’ toets, werk of nie? Of ‘n masjien werklik siektes kan diagnoseer? Of die middel wat jy gebruik al die stowwe bevat wat op die etiket aangedui is? Of die aansprake in gesondheidsadvertensies korrek is? Word jy mislei? Waarop moet jy bedag wees? Marí Hudson praat met ‘n kundige oor pseudowetenskap en kwakkery.

Gesondheid 22 November 2017
Woensdag 22 November 2017

As jy nog nie in jou lewe sinusprobleme ondervind het nie, is jy beslis deel van ‘n rare groep mense. Wat is die doel van die sinusholtes in jou kop? Hoe werk sinusprobleme en waarom is sinusoonsteking so hardnekkig?

Gesondheid 15 November 2017
Woensdag 15 November 2017

Hoe kan ‘n middel wat op jou niere werk, jou bloedglukose-vlakke verlaag? Waarom is dokters opgewonde oor die nuwe anti-diabetes-middels? Waarom is té lae bloed-glukose-vlakke lewensgevaarlik? Marí Hudson gesels tydens diabetes-bewustheidsmaand met ‘n internis oor die jongste inligting oor dié bedrieglike siekte, wat aan die toeneem is.

Gesondheid 8 November 2017
Woensdag 8 November 2017

Tipe 2 diabetes kan jou oë en niere aantas, maar die effek van tipe 2 diabetes as oorsaak van hartaanvalle en beroerte is jare lank onderskat. Binnekort sal twee nuwe bekostigbare anti-diabetes-middels ook in Suid-Afrika beskikbaar wees, wat wel diabete se risiko vir hartvatsiektes kan verlaag. In die eerste van 'n reeks van twee programme oor tipe 2 diabetes, gesels Marí Hudson met ‘n internis oor die redes waarom bloedsuikervlakke goed beheer moet word, en die behandeling wat tans beskikbaar is.