Programme

TERUG

Dis Klassiek

Vorige Programme

Woensdag 12 Junie 2019
21:10-22:00

Luister na een van die vaders van barokmusiek, J.S. Bach (1685-1750) se bekendste werke: Die Brandenburg Concerto No. 1 in F Majeur BWV 1046. Bach het twintig kinders gehad waarvan sommige van sy seuns suksesvol as komponiste in sy voetspore gevolg het.

C.P.E Bach (1714-1788) was die tweede seun J.S. Bach en het in sy tyd meer aansien geniet as sy pa. As komponis van sowat 700 werke word hy beskou as 'n belangrike oorgangsfiguur tussen die barok- en klassieke tydperke. Luister na sy Hobokonsert in B-Mol Majeur Wq 164.

Die jongste van J.S. Bach se seuns was J.C. Bach (1735- 1782). Hy het meerendeels sy opleiding as komponis van sy halfbroer C.P.E. Bach ontvang.  Sy musiek is verteenwoordigend van die klassieke tydperk en het 'n invloed gehad op die ontwikkeling van Haydn en Mozart se Concerto style. Die program sluit af met J.C. Bach se Sinfonia No. 6 in B-Mol Majeur W. B.12     

Woensdag 5 Junie 2019
21:10-22:00

Jy kan luister na ’n Simfonie van Ditters von Dittersdorf, ’n Duitse komponis wat baie geïnteresseerd was in die Griekse en Romeinse mitologie en van die temas uit verhale van dié tyd  in sy werke ingeweef het.
Die hoofwerk is die KLAVIERKONSERT NO. 2 in G-mineur van Saint-Saëns, ’n werk wat ‘n groot gunsteling by gehore en klaviervirtuose is. Saint-Saëns het ‘n slag gehad met orkestrasie en die werk getuig daarvan.
Die slotwerk is nog ‘n uitstekende werk waar die orkes sy bedrewenheid kan toon: Ravel se BOLERO. Die musiek was aanvanklik vir ’n balleteenbedryf gekomponeer, maar deesdae word dit as ’n enkelwerk op die konsertprogram aangebied.    

 

 

Woensdag 29 Mei 2019
21:10-22:00

 Jy kan luister na die Feesoverture van Sjostakovitch. Die Russiese komponis het dit vir die 30-jarige herdenking van die Oktober-Rewolusie gekomponeer. Maar dis nie in daardie jaar uitgevoer nie – eers 7 jaar later in 1937. Dit is weer gebruik as hoofwerk by die opening van die Somer Olimpiese Spele in Moskou van 1980; en by die Nobel Pryskonsert in 2009.
Haydn se Fluitkonsert in D-majeur is die enigste een wat hy vir die instrument nagelaat het. Daar is wel ‘n ander Fluitkonsert, ook in D-majeur, maar word as die werk van Leopold Hoffman erken. Maar daar is bewyse, soos bv. die omslag wat aandui dat Haydn ook die komponis van die werk was.

     

 

Woensdag 22 Mei 2019
21:10-22:00

Luister na die Simfonie no. 5 in D majeur van Mendelssohn. Dit word ook die HERVORMINGSIMFONIE genoem. Mendelssohn het dit ter ere van die grondleggers van die Protestantse beweging van destyds gekomponeer. Hy het selfs Martin Luther se koraal, ‘N VASTE BURG IS ONSE HEER in die laaste beweging as tema gebruik. Daar is ook baie verwarring oor die hooftoonsoort van die werk. Net ‘n deel van die eerste en laaste bewegings is in D majeur. Die res van die werk is in D mineur. Sommige uitgawes verwys na die werk as in D majeur en andere weer D mineur. Die Duitse Simfonieorkes van Berlyn word gelei deur Vladimir Ashkenazy.

Die openingswerk is die FEESOVERTURE of die 1812 OVERTURE van Tsjaikofski. Die werk is destyds gekomponeer ter erknenning aan die Russiese Leër wat in 1812 ’n aanslag van die magte van Napoleon suksesvol afgeweer het.

Woensdag 15 Mei 2019
21:10-22:00

Luister na die Dubbelkonsert in F majeur vir viool en pianoforte no. 6 van Haydn. Alhoewel hierdie Klassieke musiekperiode-komponis ’n totaal van ses dubbelkonserte gekomponeer het, het slegs hierdie een behoue gebly. Die feit dat die “pianoforte” een van die twee solo-instrumente is, dui daarop dat die klavier nog in sy kinderskoene gestaan het en toe nog nie tot die klawerbordinstrument ontwikkel het nie soos ons dit vandag ken nie.

Die tweede werk is die Klavierkonsert no. 2 in B mol majeur van Beethoven. In daardie stadium het die komponis nog baie aktief deel gehad aan uitvoerings van sy werk, en het dikwels as die solis opgetree. Hy het uiteindelik nog drie klavierkonserte gekomponeer.

Woensdag 8 Mei 2019
21:10-22:00

Luister na die die eerste Simfonie van William Boyce. Die Engesle komponis het benewens sy agt simfonieë, ook heelwat kerkmusiek gekomponeer. Hy het sy musiekopleiding by 'n kerkinstelling begin en later as orrelis diens gedoen. Boyce is as ‘n belangrike baanbreker vir musiek in Engeland gesien, en met sy dood in 1779 is groot hulde gebring aan sy bydrae tot die kerk en musiek.

Die tweede werk is die Vioolkonsert no. 3 in D mineur van Max Bruch. Die Duitse komponis het groot bewondering gehad vir sy kollegas en landgenote, Mendelssohn en Schumann. Bruch het met die première van sy eerste vioolkonsert ‘n groot deurbraak gemaak, en sy eie stempel begin afgedruk. Ongelukkig moes hy later sterk mededinging van Brahms en Wagner die hoof bied. Dit het 30 jaar geneem voordat hy uiteindelik sy Vioolkonsert no. 3 voltooi het.

Woensdag 1 Mei 2019
21:10-22:00

Luister na die enigste simfonie wat die jong Juan Arriaga van Spanje gekomponeer het. Hy het groot belofte getoon as komponis, want op 15-jarige ouderdom het hy reeds sy eerste vollengte opera voltooi. Hy sterf egter in die ouderdom van 20.

Die tweede werk is Haydn se Klavierkonsert no.11 in D majeur. Tot en met die werk was die klawesimbel baie gewild as solo-instrument vir klawerbordwerke, maar Haydn was een van die eerste komponiste wat besef het dat die instrument nie al die elemente van ’n konsert vir solo-instrument en orkes kan hanteer nie. Dit was ook die tyd toe die pianoforte as instrument al hoe gewilder geraak het. Hierdie klavierkonsert van Haydn is een van die eerstes wat uitsluitlik vir die klavier en orkes gekomponeer is. Vorige soortgelyke werke het voorsiening gemaak vir die klawesimbel as alternatief, en soms ook die harp.

Woensdag 24 April 2019
21:10-22:00

Luister na twee kontradanse van Mozart. Die werke is in Londen gekomponeer tydens ‘n besoek van Mozart aan die Chelsea-omgewing. Die musikoloog, Erik George Sebastian Smith, het in 1936 op ’n versameling van Mozart se meer onbekende werke afgekom, waarvan die twee kontradanse deel is. Hy het gevind dat die werke nie volledig is nie, en het self sy hand gaan waag om addisionele dele by te voeg.

Die hoofwerk van die aand is Tsjaikofski se Simfonie no. 5 in E mineur, wat uit vier bewegings bestaan. Tydens die eerste drie simfonieë het die komponis streng gehou by die sonatavorm as struktuurbasis vir sy werk. Die dissipline kom uit sy jare van blootstelling aan die St. Petersburg Konserwatorium waar hy eers klas geloop, en later self gaan onderrig het. Dit was eers van Simfonie no. 4 af (en die res van die repertorium van die genre) dat Tsjaikofski ‘n meer persoonlike klankstempel en dramatiese elemente gebruik het. Sy struktuur het dus ook meer variasie getoon.

Woensdag 17 April 2019
21:10-22:00

Luister na Handel se Orrelkonsert in B mol majeur. Die werk is so geskryf dat die harp ook as solo-instrument kan dien, aangesien konserte vir orrel en orkes in daardie tyd ongewoon was.

Die tweede werk is Camille Saint-Saens se Orrelsimfonie – eintlik sy Simfonie no.3 in C mineur. Dit bestaan uit twee bewegings, wat weer op hulle beurt uit twee dele elk bestaan. Die bewegings word ook deur verskillende tempos gekenmerk: Adagio – Allegro molto; Poco Adagio; Allegro Moderato – Presto - en weer Allegro Moderato; en dan Maestoso – Allegro – Molto Allegro – Pesante. Die orrel word net aan die einde van die twee bewegings gebruik.

Woensdag 10 April 2019
21:10-22:00

Luister na die Fluitkonsert no. 3 in C kruis majeur, een van meer as 300 fluitkonserte wat Johann Quantz nagelaat het. Hierdie Duitse komponis het sy pa verloor toe hy 11 jaar oud was. Sy oom het verder na hom omgesien, en die jong Johann het begin met musieklesse. Na verskeie draaie as jong student het hy uiteindelik by Alessandro Scarlatti beland, waar hy komposisie gestudeer het. Benewens die talle concerti vir sy geliefde instrument, die fluit, het hy ook honderde sonatas nagelaat. Sy kleinseun, Albert Quants, het in 1877 ‘n biografie oor sy oupa geskryf, wat nie net die repertorium van die fluit uitgebrei het nie, maar ook ‘n handleiding nagelaat het vir leerlinge wat die instrument wil bemeester.

Die tweede werk is die Klavierkonsert in C kruis majeur van Ferdinand Ries, ‘n vriend van Beethoven. Hy het geleef van 1784 tot 1838. Hy het agt simfonieë gekomponeer, een vioolkonsert; agt concerti vir klavier en orkes, drie operas en ‘n reeks kamerkmusiekitems. Ries en die Duitse filosoof, Franz Wegeler, het later ‘n stel herinneringe aan Beethoven, hulle bron van bewonderting en inspirasie, geskryf.