'n Leefstyl-program vir die moderne Afrikaanssprekende met musiek en onderhoude.
PRAAT SAAM is die kans vir elke luisteraar om sy sê te sê en deel te wees van die openbare debat. Dit is jou program om inligting te kry, ander se perspektiewe te hoor en gesamentlik te help soek na oplossings.
MEER INLIGTING
'n Leefstyl-program vir die moderne Afrikaanssprekende met musiek en onderhoude.
Eet en leef uit jou ‘groen’ kombuis deur Heleen Meyer
Janine Stephen van Elle-tydskrif het eendag gesê: ‘Moenie tyd mors deur skuldig te voel oor die grootte van jou koolstof-voetspoor nie – gebruik liewer maklike praktiese wenke om jou verbruik vandag minder te maak.’ 'n Koolstof-voetspoor is die effek wat jou leefstyl en keuses op die koolstof-vlakke in jou omgewing het. Enige iets waardeur jy energie kan spaar, minder vermors en items kan hergebruik of hersirkuleer maak ’n verskil. Klein veranderinge mag dalk vir jou onbelangrik lyk, of van min waarde, maar as dit alles saam gevoeg word, kan dit ’n verskil aan ons toekoms maak. Wees dus ‘n voorbeeld vir jou kinders en maak dit vir almal ’n gewoonte. Sonder om obsessief te raak hieroor, moet ’n mens elke dag dink wat jy kan doen om groener te leef. Hoe lyk ’n greenie vandag? Twintig jaar gelede het sy dalk leersandale, ’n romp met klokkies om die soom en lang hare gehad. Vandag dra sy haar selfoon in haar sak, betaal met ’n kaart en dra haar leerstewels met trots.
Week 1: Maak groen keuses reeds in die winkel
1. Doen inkopies met ’n lysie. Onnodige aankope is duur en lei tot vermorsing, bv te veel groente wat verlep in die yskas word net weggegooi. Om te verhoed dat jy onnodig goed koop, is dit beter om nie op ‘n leë maag of oor middagete kos aankope te doen nie.As jy bv moet inkopies doen net na jy by die gym was, pak vooraf ’n vrug of bottel water in.
Koop bv liewer ’n hervul-pakkie vir ’n speserymeultjie, as nog ’n glas- of plastiekhouertjie wat jy later weggooi.
2. Neem jou eie inkopiesakkies saam. Dit kan vinnig ’n gewoonte word, om na jy jou inkopies by die huis uitgepak het, die sakke net weer in jou kar te sit. Vou selfs een of twee dun plastieksakkies in ‘n klein bondeltjie en bêre dit in jou handsak. (’n Paar keer se 36 c per sak, word vinnig ’n koppie koffie se geld.) Gebruik materiaalsakke wat jy weer en weer kan gebruik of selfs van die wat van projekte kom, wat help om werk vir ander te skep.
3. Koop jou groente laaste. Doen jou inkopies sodat jou groente bo in die trollie lê. Op dié manier sal dit minder kneus en dus langer hou. Vra die persoon wat help om jou inkopies in te pak om die sagte groente saam met ander ligte inkopies bo in die trollie te sit.
Spandeer die langste tyd in die vars produkte-afdeling van ’n winkel – so koop jy minder verwerkte produkte. Met voordele vir jou sak, jou gesondheid en die omgewing.
4. Kies groente en vrugte/ander inkopies van plaaslike verskaffers. Ondersteun boere in jou omgewing of in Suid Afrika deur liewer nie die veel duurder, ingevoerde groente en vrugte te koop nie. Hoe verder die vars produkte moet reis voor dit op jou winkelrak beland, hoe meer omgewings-onvriendelik is dit. Seisoens-produkte is ook goedkoper en geuriger as wanneer jy dit buite hul natuurlike seisoen koop, of dit beteken dalk dit was vir maande in koelkamers, (bv appels en pere in die somer, is soms van die vorige seisoen) en beslis nie meer so vars soos dit kan wees nie. Deur iets vars vir ’n kosblik in te pak, het jy ook minder klaar-bereide eetgoed in onnodige verpakkings. Dis ook gesonder.
5. Betaal liewer ‘n bietjie meer vir kwaliteit wat langer hou. Houers en gebruiks artikels van glas of goeie kwaliteit plastiek kan weer en weer gebruik word. Oorskietkos kan liewer daarin gebêre word, as in plastieksakkies wat net in die drom beland. Plastiekbakkies wat gevries kan word, bewaar kos beter in ’n vrieskas as sakkies wat skeur en vloeistof laat uitloop. Potte en panne van vlekvrye staal of ander goeie kwaliteit is ’n beter kopie as bv goedkoper kleefvrye-panne, wat maklik krap en op die ou end weggegooi word. (Dis ook meer ongesond om in kos te maak.) Items van goeie gehalte is dikwels makliker om skoon te maak en bly langer mooi. Silikon-kombuisapparaat bv potlekkers en eierligters is hittebestand en sal ook langer hou as goedkoop alternatiewe.
6. Maak ’n groen keuse as jy vis wil eet. Dalk het jy al gehoor van die SASSI vislys (South African Sustainable Seafood Initiative)? Die WWF het hierdie inisiatief in 2004 begin om seelewe rondom die Suid Afrikaanse kus teen oormatige vangste te beskerm. Met die idee wil hulle ons almal aanmoedig om vis te kies (in ’n winkel of restaurant) wat minder bedreig is. Vissoorte word in drie groepe verdeel
Groen: Is veilig om te koop, want daar is genoeg van die spesie beskikbaar om te oorleef, bv stokvis, sardyne, geelstert, snoek, dorado, engelvis, bottervis, mossels en oesters. Die vang van die vis op die lys gee ook minder aanleiding tot omgewings-skade.
Oranje: Mag verkoop word, maar sommige vissoorte is steeds bedreig of dit lei tot skade aan die omgewing wanneer die vis gevang word, bv geelbek (Cape Salmon), rooi steenbras, koningklip, tongvis en garnale. Dink mooi voor jy vis van hierdie groep koop.
Rooi: Hierdie vis is onwettig om te vang, want hulle is onder groot druk om uit te sterf bv galjoen en wit mosselkraker.
’n Oulike manier om dit prakties te maak is die selnommer 079-499-8795 (moenie Nemo probeer nie) of besoek die webwerf www.wwfsassi.co.za. As jy wonder op watter lys ‘n vissoort is, stuur ’n SMS met die naam van die vis na die nommer vir ’n vinnige antwoord.
7. Groen produkte, mooi genoeg om te gebruik. Alhoewel baie maatskappye aanspraak maak op hoe omgewings-vriendelik hulle is, is dit ongelukkig nie altyd die geval nie. Kies dus produkte wat regtig ’n verskil kan maak. Deesdae kry ‘n mens heelwat produkte wat vergaanbaar (biodegradable) of ten volle hersirkuleerbaar is. Voorbeelde hiervan is GreenHome se verskeidenheid verpakkings- en gebruiksartikels soos bakkies, borde, glasies en eetgerei. Al hierdie produkte word van natuurlike stowe gemaak en kan na gebruik op die komposhoop gesit word. Dis ideaal vir ‘n piekniek of padkos. Nog ‘n maatskappye is Govino se glase sonder stele, mooi genoeg vir ‘n glas wyn by ’n piekniek, maar 100 % hersirkuleerbaar en dit gaan nie kraak of breek as jy dit inpak nie. Dit kan weer en weer gebruik word. Hê dus so min as moontlik om weg te gooi na ’n piekniek of vir ’n inpak-ete op kantoor. Gebruik plastiekbakkies wat jy weer kan gebruik, jou eie eetgerei wat jy kan huis toe neem en bedek jou piekniekmandjie met ’n mooi lap, in plaas daarvan om alles in kleefplastiek toe te draai.
8. Plant jou eie kruie en groente. Dit verskaf nie net plesier nie, maar spaar ook baie. Jy kan pluk wat jy nodig het, wat beteken als is vars en niks word vermors nie, bv ’n handvol roket- en slaaiblare uit die tuin, teenoor ’n pofsakkies vol slaaiblare waarvan helfte kan verlep. ’n Houertjie plantjies kos min of meer R20 en hou ’n paar maande, teenoor ’n pofsakkie wat R12 - R15 kos en dalk genoeg is vir twee keer se slaai.
Regstreekse uitsending van die KKNK af met die musiek van Elizma Theron, Nicolis Louw, George Longane en Wicus van der Merwe.
Regstreekse uitsending van die KKNK af op Oudtshoorn met die musiek van George Meiring, Biance le Grange, Snotkop en Christo & Cobus.
Regstreekse uitsending van die KKNK af op Oudtshoorn met Elias P. Nel, Karen Ferreira, Viljoen Retief, Stef Kruger en Ray Dylan.
Regstreekse uitsending van die KKNK af op Oudtshoorn met Charlize Berg, Vaatjie, Charné Hugo, Adam Tas en Hugo Niewoudt.