|
|

Ek is die jongste van vyf kinders en die enigste een wat nie ‘n mediese rigting ingeslaan het nie. Dus neem ek aan dat ek heel waarskynlik die melkman se kind kan wees!
Ek is 'n gebore Pretorianer, het aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer en daarna is ek Stellenbosch toe waar ek die graad B.Dram en Honneurs BA (Afrikaans) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Ek het ook in my honneursjaar Elsabé Daneel se kursus in Media- en Kommunikasiestudies (Radio- en TV-aanbieding) voltooi.
Uitsaai was reeds van kleins af ‘n passie en ek het op 10-jarige ouderdom amateurkassette begin maak en sommer die musiek, aankondigings en advertensies self behartig. Dieselfde kassette is herhaaldelik gebruik tot die hele spul later begin uitrafel het. As student kon ek die radiopassie begin uitleef toe ek vir drie jaar 'n aanbieder by Stellenbosch se kampusradiostasie, MFM92.6 was. Toe ek al die hulpbronne daar uitgeput het en die grense van realiteitsradio tot sy uiterstes beproef het (ek kan met trots sê dat ek vir ‘n week weens anargie geskors is), het ek by KFM 94.5 as verslaggewer en nuusleser begin werk.
Maar die slakkepas in die Kaap en die heeltyd-speeltyd-mentaliteit aan daardie kant van die Wyngordyn het my ondergekry en ek het vanaf 2007 by die Pretoriase gemeenskapsradiostasie Rippel 90.5 as aanbieder en joernalis gewerk. ‘n Jaar en ‘n maand later land ek by “Die een” en ek is elke dag besig om my drome uit te leef.
Ek kan nie saam met die stroom swem nie, is totaal onbeholpe in die kombuis en sal graag nog eendag my doktorsgraad in Afrikaans wil voltooi! En, o ja, ek het ‘n fobie vir spelfoute…
|
|