|
|

|
Anita het in Mpumalanga groot geword en op Belfast gematrikuleer. Na 'n lang geneul, het haar apteker pa haar tydens 'n universiteitsvakansie na 'n neef in Hamburg gestuur om haar van haar wanderlust te genees. Haar lewensuitkyk sou nooit weer dieselfde wees nie en haar pa se medisyne het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Nadat sy haar studies oor die politieke wetenskap en letterkunde aan Tukkies voltooi het, is sy Potchefstroom toe waar sy nagraads joernalistiek studeer het. Na drie jaar by die SAUK, waar sy onder meer radionuusboelletins geskryf en in die verslaggewerskantoor gewerk het, het sy haar yskas, bed en stukkende Golf (deur vriende "die streetfighter" gedoop) aan haar pa verkoop en die pad gevat Suid-Amerika toe met 'n rugsak en "South America on a Shoestring". Die geluksgodin was aan haar kant want net toe haar geld in die suide van Argentinië opraak, het sy werk in 'n sjokoladefabriek gekry. Die idee was om 'n jaar lank weg te breek, maar bykans twee jaar later het sy haar op Paaseiland in Polinesië bevind waar sy sewe maande lank gewoon het. Na 'n draai in Oos-Europa is sy terug Johannesburg toe waar sy as navorser vir M-Net se Carte Blanche gaan werk het. Die radio se trekkrag was egter sterker as dié van TV en in September 1997 het die destydse uitvoerende regisseur van Monitor & Spektrum, Chris Louw, haar 'n pos aangebied. Monitor het Anita die geleentheid gebied om na die Midde-Ooste te vlieg om die Irak oorlog te gaan dek en het haar ook Pakistan toe gestuur waar sy eerstehands die spanning tussen dié land en Indië in Kashmir waargeneem het. Die afgelope nege jaar was sy ook saam met Chris Louw en Iris Bester verantwoordelik vir 'n klankgeskiedenis oor Monitor wat by AARDKLOP aangebied is as 'n Practise Swing in die Galgekamer. Na-uurs reis, lees en kook sy graag. Die skrywer, Andre P. Brink, het op 'n keer met sy tong stewig in sy kies gesê, "die metafisika van ensiklopedieverkopers interesseer hom." Alhoewel Anita nie sy mening deel nie, geniet sy dit om onderhoude te voer omdat "mens nooit weet wat jy gaan kry nie."
|
|