|
|

Willem het nie van kleintyd af 'n begeerte gehad om in die uitsaaiwese betrokke te raak nie. Hy het wel per geleentheid "radio- opnames" saam met sy sussie gemaak en baie op die verhoog verskyn, maar hy wou eintlik 'n polisieman, tandarts, onderwyser of marinebioloog word.
Hy is gebore op Matatiele, het sy skoolloopbaan op Kokstad begin en het op Burgersdorp gematrikuleer. Willem eers op hoërskool kennis gemaak met die wêreld van uitsaai toe hy in graad 11 gevra is om 'n skoolradiostasie op die been te bring.
Na skool het Willem klankingenieurswese in Kaapstad gestudeer. Hy het daarna na Pretoria verhuis om deel van 'n toneelgeselskap te wees en het ook in die Staatsteater gewerk.
In April 2002 het hy begin uitsaai by snuffelmarkte regoor Gauteng en terselfdetyd 'n pos losgeslaan by Rippel, 'n gemeenskapsradiostasie in Pretoria. Willem het in November 2006 by RSG aangesluit en het kort daarna die Jakarandastad vir die Goudstad verruil.
Ander belangstellings sluit in sport, veral krieket (hy het al 'n paar kwalifikasies onder sy belt in afrigting en skeidsregtersake), musiek (hy speel klavier) en enige iets op vier wiele.
|
|