DIE WONDERWERKER

DIE WONDERWERKER
VMD
DIE WONDERWERKER
Datum uitgereik: Vrydag 7 September 2012
Regisseur: Katinka Heyns

Gradering: 9

ʼn Katinka Heyns film is ʼn wonderwerk opsigself. Dit is haar eerste rolprent in 15 jaar en handel oor die digter, filosoof, natuurkundige en dokter, Eugene Marais, se verblyf by ʼn boeregesin in die Waterberge.

Met delikate, rustige en effektiewe kwashale mymer Katinka oor die invloed wat hierdie wyse en hipnotiserende man op die familie gehad het. Die ma, briljant gespeel deur ʼn onvergelyklike Elize Cawood, kom onder die indruk van haar eie emosionele verwaarlosing en liefdeloosheid. Die 17-jarige dogter raak verlief op Marais, terwyl die mans hom as ʼn bedreiging vir hulle patriargale heerskappy sien. Sonder sentiment, met ʼn gestroopte en ekonomiese pryswennende draaiboek deur Chris Barnard en atmosferiese, getemperde kamerawerk deur Koos Roets, sorg Katinka Heyns hier vir ʼn meesterstuk.

So ʼn meesleurende, beeldskone en aangrypende Afrikaanse rolprent sien jy dalk net een maal per jaar. Dawid Minnaar is knap as Marais, maar dit is Sandra Kotzé, een van ons mees onderskatte aktrises, as tant Hessie, wat my verbysterd met haar spel gelaat het, terwyl Kaz McFadden met sy genuanseerde vertolking van die wilde seun, Adriaan, spel lewer wat die karakter geskakeerd en menslik maak. DIE WONDERWERKER moet ten alle koste gesien word.

DIE WONDERWERKER
DIE WONDERWERKER
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 101)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?