JAGVELD

JAGVELD is stylvol en met ʼn groot sin vir verantwoordelikheid verfilm deur nuweling Byron Davis. Daar is enkele tonele is wat mense kan skok, veral waar ʼn vrou aangeval word.

ʼn Groep skorriemorries probeer dwelms Kaap toe vervoer, maar na ʼn ongelukkige voorval met ʼn verkeerskonstabel, loop dit skeef. ʼn Meisie (Leandie du Randt), geklee in die kleinste broekie buite ʼn paaldans, se motor breek in die Karoo en die manne jag haar. Maar gou word slagoffer jagter, en soos ʼn wafferse Laura Croft, net skrapser geklee, jag sy hulle een na die ander.

Byron Davis is die eerste regisseur in Afrikaans wat ʼn aksiedrama oortuigend kon verfilm – tot so ʼn mate dat dit by buitelandse flieks kan kersvashou. Met ʼn kamera wat voortdurend beweeg, uitstekende gevegschoreografie en ʼn kamera wat reg aan die dor, bleek en uitgestrekte Moordenaarskaroo gee, sorg hy vir ʼn goeie skiet-skop-en-doodbloeifilm.

Dis vol opwinding, uitstekende jaagtogte en in dieselfde styl gemaak as die destydse spaghetti Westerns. Dis ons eie boerewors-western met ʼn vroue-cowboy en sewe ongelukkige kroeks. Luan Jacobs en Neels van Jaarsveld lewer veral buitengewone goeie spel.

JAGVELD is gewelddadig, en sal amper uitsluitlik net in hardebaardmanne se smaak val.

JAGVELD
JAGVELD
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 47)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?