BLADE RUNNER 2049

BLADE RUNNER 2049
LV
BLADE RUNNER 2049
Datum uitgereik: Vrydag 6 Oktober 2017
Regisseur: Denis Villeneuve

Gradering: 9

Die druk op Dennis Villeneuve, die regisseur van BLADE RUNNER 2049, was geweldig. Gelukkig was Ridley Scott, die regisseur van die oorspronklike Blade Runner, een van die vervaardigers, dus is sy stempel ook in die rolprent te sien. ʼn Mens voel of jy verdrink in die visuele, bedwelmende skoonheid van die rolprent wat wetenskapfiksie na ʼn nuwe vlak toe neem. Selde indien ooit was daar so ʼn surrealistiese, visuele reis in bruin, geel, goud, mis en gestileerde skote as hierdie film, wat jou oë katswink slaan met beelde wat dit laat voel of jy op ‘n dwelmreis is. Weet dus: jy MOET dit in ʼn IMAX-teater sien as daar een naby jou is, en al kos die kaartjies R120, is dit ʼn een keer in ʼn leeftyd ervaring.

Die nuwe weergawe speel 30 jaar na die oorspronklike af, waar Ryan Gosling as ʼn Blade Runner wat robotte jag, na ʼn kind gaan soek, maar ook na Deckard (Harrison Ford), die oorspronklike Blade Runner. Die verskil tussen mense, en robotte wat na siele en gevoel smag, word veral in hierdie visuele meesterlike opvolg meesleurend vertel. Gaan ervaar BLADE RUNNER 2049 en word ver-swelg deur beelde wat tegnies so gevorderd en beeldskoon is, jy kan jou oë nie glo nie.

BLADE RUNNER 2049, alhoewel soms effe te stadig en selfbewus, is briljant en is ʼn waardige opvolger op die Ridley Scott film van 1982.

BLADE RUNNER 2049
BLADE RUNNER 2049
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 18)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?