ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES

ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES
LVD
ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES
Datum uitgereik: Vrydag 7 September 2018
Regisseur: Daryne Joshua

Gradering: 10

ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES is op die waarheid gegrond. Dit gaan oor Ellen Pakkies wat haar dwelmveslaafde seun vermoor het omdat sy orals onsuksesvol hulp probeer kry het. Die staat, die gemeenskap en die reg het haar gefaal. Om haar bedroefde en getraumatiseerde lewe te beskerm, en omdat sy emosioneel uitgemergel was, het wanhoop haar tot die onnoembare daad laat oorgaan. Die rolprent verduidelik in beheersde en gesaghebbende terme wat gebeur het.

Jill Levenberg is onverbeterlik as ‘n sielsmoeë ma wat haar seun liefhet, maar die einde van ‘n pad bereik het. Haar vrees en hulpeloosheid word briljant uitgebeeld. So ook Jarrid Geduld se bekroonde spel as haar seun. Die menslikheid in hom skemer steeds deur.

Dit is in die sensitiewe, nugter regie van Daryne Joshua, die produksiewaarde van die huis waar die storie afgespeel het, die deurwinterde spel en die bedrewe redigering en kunsregie wat die rolprent se sukses geleë is. Ek weet dis nie die soort rolprent waarna ‘n mens maklik gaan kyk nie, want dit pynig jou met sy realisme en brutale hartseer storie, maar dit is die soort ervaring wat ondersteuning verdien. Ons leef op die rand van gewelddadige chaos. Die rolprent is ‘n aanklag daarteen.

ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES kry volpunte. Dit is een van die belangrikste films nóg in Afrikaans.

ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES
ELLEN: DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 30)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?