ALADDIN

ALADDIN
VPG
ALADDIN
Datum uitgereik: Vrydag 24 Mei 2019
Regisseur: Guy Ritchie

Gradering: 7

Weet van die begin af: julle behoort hierdie lewende aksie-weergawe van Disney se destydse animasietreffer ALADDIN gate uit te geniet. Dit is kleurvol, aksiebelaai, vol mooi musiek, towertapytritte, bose heersers en ondeundheid. Kinders en ouers gaan skoon vergeet om ‘n tweede boks springmielies te koop, en vir hulle word ALADDIN volkome aanbeveel.

Sit ‘n mens egter jou ongewilde resensenthoed op, dikwels vol knapsekêrels, is die fliek louwarm, so asof sy hart soms vergeet om te klop. Mena Massoud is ondeund en onskuldig as die brawe Aladdin, en Naomi Scott as Prinses Jasmine is ‘n indrukwekkende kampvegter vir vroueregte - heeltemal anders as in die animasiefliek.

En dan is daar die jolige, doller-as-kopaf Will Smith wat die Genie met oorgawe en bravade speel. Sy kwinkslae en oordadige spel mag veral kleintjies bo 7 laat gil van die lag. Ek persoonlik verkies die animasie, maar in teaters mag die towertapytrit jou asem wegslaan, terwyl die fliek vol prag, praal en spesiale effekte is. Aanbeveel vir ouers en kinders, maar as jy ‘n fynproewer is, mag jy dwarsdeur Aladdin se tegnieke en manewales sien.

ALADDIN
ALADDIN
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 11)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?