Interaktief

FIELA SE KIND

Volgens die regisseur, Brett Michael Innes, wat ook die kragtige SINK gemaak het, is FIELA SE KIND oorgemaak om dit opnuut aan ‘n nuwe geslag bekend te stel. Myns insien was dit nie regtig nodig nie, want meeste mense is versot op die meesterlike Katinka Heyns-weergawe, en sal die twee rolprente natuurlik vergelyk. Dit is heeltemal verskillend, maar toegegee, ‘n nuwe invalshoek is altyd welkom.

Dit gaan oor ‘n bruinvrou, Fiela Komoetie (gespeel deur Zenobia Kloppers), wat in die 1880’s op ‘n verlore seun afkom, en hom as haar eie kind groot maak.  Moederlike liefde, vooroordeel, wreedheid, leuens, uitbundigheid vir die lewe en passie vorm alles deel van Dalene Matthee se pragtige storie oor wat in die Knysnabos en Klein Karoo gebeur. Brett Michael Innes het die emosie egter baie teruggedruk. Die rolprent is baie stiller, meer bedeesd en staties as die vorige. ‘n Mens mis ook die warmbloedigheid daarvan, die groot emosies en die onbeteuelde liefde en vreugde van ma-wees en menswees.

Dit beteken egter nié ek sê moenie daarna gaan kyk nie. Inteendeel, dit sal interessant wees om die twee Fielas met mekaar te vergelyk en te debatteer daaroor. Dit bly dieselfde kragtige verhaal oor ‘n eenvoudige ma wat enigiets vir haar hanskind sou doen, en hoe haar liefde getoets word. Dit het egter nie altyd dieselfde trefkrag as sy voorganger nie, maar dis vir jou om te besluit. Gaan  kyk daarna.

FIELA SE KIND
FIELA SE KIND
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 36)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?