Interaktief

JOKER

JOKER
LVD
JOKER
Datum uitgereik: Vrydag 4 Oktober 2019
Regisseur: Todd Phillips

Gradering: 9

JOKER trap die bloedige spore terug in die verlede na die dae toe Batman se grootste vyand homself gevind het, en sy persoonlikheid gevorm is. Dié grieselrige karakter met die opgeplakte glimlag op sy hartseer bakkies, is geboelie, misken en gespot omdat hy aan ‘n lagsiekte gely het.

Diep in die donkerste hoekies van sy skemersiel, het hy ‘n monster ontdek. En hierdie monster was die enigste wese met die moed om wraak te neem, maar so bloedig en gewelddadig, dat ‘n mens oorbluf uit die teater steier.

Die rolprent herinner aan Se7en, Taxi Driver en King of Comedy. Dis bloeddorstig donker, en neem jou op ‘n hellevaart na die rommelhoop in ‘n geteisterde man se verbeelding. Dit beeld totale anargie uit en is deur sommige kritici bestempel as ‘n gevaarlike rolprent wat geweld kan ontlok. Wees bewus van die waarskuwings. Jy het nog nooit so iets gesien nie. Van die intense gruwelvertolking deur ‘n briljante Joaquin Phoenix, tot by ‘n skoktoneel in ‘n narre-trein wat jou bloed laat stol, tot by die brutale einde sal dit jou boei, maar ook ontsenu en gru.

JOKER is ‘n uitmuntende, selfs geniale, rolprent deur Todd Phillips, wat jou sal destabiliseer, en jou dae later nog mag teister. Ten spyte van sy hoë puntetoekenning moet jy daarop let dat dit nie ‘n Avengers- of Batman-superheldfees is nie. Dis ‘n gruwelreis reguit in die hel in met ‘n grynslaggende mombakkies, wat jou onderbewussyn vir nagte lank mag teister.

JOKER
JOKER
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 15)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?