Nou op die lug

driesestig

12:00-13:00

Interaktief

1917

1917
LV
1917
Datum uitgereik: Vrydag 17 Januarie 2020
Regisseur: Sam Mendes

Gradering: 9

1917 lyk asof dit in een skoot geskiet is. Dus: asof daar geen redigering was waar van een toneel na ‘n ander gesny word nie. Alles speel chronologies in werklike tyd af. Natuurlik was daar redigering, maar so slim verbloem dat ‘n mens dit beswaarlik kan sien. Dit handel oor twee Britse troepe, uitstekend gespeel deur Dean-Charles Chapman, maar veral George MacKay wat ‘n boodskap agter vyandelike linies moet gaan aflewer wat 1,600 Britse soldate se lewens kan red. Saam met die twee soldate neem die kinematograaf Roger Deakins ons deur loopgrawe, bunkers, ‘n niemandsland wat oortrek is met lyke en geraamtes, doringdrade, ontploffende bomme, vegvliegtuie en landmyne.

Meer realisties kan jy nie kry nie, want hier kan nie weggesny word van grusaamheid of brutaliteit nie. Die kamera neem alles waar en wys presies wat hy sien. Mense kan dit natuurlik ontstellend vind, maar so baie rolprente verglans oorlog – Midway is ‘n voorbeeld, dat dit soos ‘n lekker videospeletjie lyk waar dit nie saakmaak wie sterf en wie nie. Nie 1917 nie. Dit is genadeloos en die regisseur, Sam Mendes, verdien elke prys wat hy al hiermee gewen het.

‘n Wenk, moenie wag tot 1917 op DVD of stroming verskyn nie. Jy moet dit in Imax of Xtreme-teaters sien, want spesiale kameras en klank is gebruik vir daardie formaat. Dit is intens, bloedig, onthutsend maar briljant.1917 is een van vanjaar se beste en mees realistiese rolprente.

1917
1917
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 40)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?