As jy nie hierdie nuusbrief kan lees nie, klik hier
  Nuusbrief 2
17 Desember 2008
 
Hier is RSG se tweede elektroniese nuusbrief propvol nuus voor die vakansie! Ons volgende nuusbrief sal op 26 Januarie 2009 uitgestuur word. Daarin sal ons jou meer vertel oor wat jy by die KKNK van RSG te wagte kan wees.

As jy nie meer hierdie nuusbrief wil ontvang nie, klik op die skakel heelonder aan die nuusbrief.
VAN DIE STASIEMEESTER SE PERRON...

Wat ’n lekkerte is dit nie om so deur hierdie e-nuusbrief met julle te kan gesels nie! Ons hoop julle hou hiervan.

Die afgelope jaar het elke luisteraar gehelp om die jaar op ’n hoë noot te kan afsluit. Ons het pas gehoor RSG se luistersyfer het weer gestyg en staan nou op 1.909-miljoen luisteraars (dit is nou sonder die mense wat deur die internet na RSG luister). Baie dankie vir jou ondersteuning en dankie dat jy RSG kies. Ons wil glo dit is oor die verskeidenheid en kwaliteit van RSG se programme en omdat ons vir jou omgee. RSG is nie verniet almal se pel nie! Hou aan om in 2009 na RSG te luister en werf sommer al jou vriende, familie en kennisse (en sommer onbekendes ook) as RSG-luisteraars. Dan kan ons aan die einde van 2009 spog dat ons RSG-familie meer as 2-miljoen sterk staan.

’n Baie rustige en vredevolle feestyd vir jou toegewens en mag 2009 vir jou ’n mooi en besondere jaar wees.

Groete,
Magdaleen Krüger
Stasiemeester


SPESIALE SKEDULE VIR KERSDAG

RSG het vanjaar weer sy programskedule vir Kersdag aangepas om spesiale programme in die gees van die dag aan jou te bring. Hier is 'n paar van die hoogtepunte:

06:00 Kerskombers - 'n stemmingsprogram deur André Liebenberg
08:00 Loof die Here - Fanie Smit
10:00 Kersversoeke
12:00 Kersfeesgala - Wouter de Wet
13:00 My mooiste Kersfees - Fonnie du Plooy
14:00 Kersdrama: DIE MAN MET DIE ROOI JAS deur Helena Hugo (word om 21:00 herhaal)
15:00 Kersklanke sonder grense - Amanda Olivier speel 'n Tsjeggiese Kersfeesmis van Jakub Jan Ryba wat in 1796 gekomponeer is
17:00 'n Kaapse Kersfees - Martelize Brink
18:30 Kersfees toe en nou - Jacqui January
22:00 Kersfees Vers en Klank - Margot Luyt & Tharien Oosthuizen

Klik op MEER hieronder om die volledige skedule te sien.


MEER
VAN CROSSDRESSERS TOT LOUIS BRAILLE IN RSG SE NUWE DOKUMENT RE SEISOEN

RSG se nuwe dokumentêre seisoen skop op Donderdag 1 Januarie 2009 net na die 21:00 nuus af met Christine Wessels se program oor die lewe van crossdressers in die Kaap.

Op Sondag 4 Januarie saai ons Margot Luyt se geleentheidsprogram uit oor die 200ste herdenking van Louis Braille se geboortedag.

'n Oos-Kaapse gemeenskap kom op Donderdag 8 Januarie onder die loep in 'n program wat deur Mariska Spoormaker saamgestel is.

Ettienne Ludick sal op Donderdag 15 Januarie die ysterperde laat brul in 'n program oor die Harley Davidson-leefstyl.

Die skrywer en digter, Hennie Aucamp, word op Dinsdag 20 Januarie 75 jaar oud. Chris Swanepoel sal op daardie aand in Leeskring 'n hoorbeeld oor Aucamp uitsaai.

Fonnie du Plooy het die Moeder Theresa van die Oos-Kaap besoek en sy program oor haar sal op Donderdag  22 Januarie uitgesaai word.

Hou RSG se programskedule dop vir hierdie en ander top dokumentêre programme.


BOOTVAART MET RSG SE AMORE BEKKER & SANGER GERRIE PRETORIUS

Jy kan op 7 Januarie 2009 by Amore Bekker aansluit op die RSG Ponta do Ouro-bootvaart op die luukse Rhapsody. Drie wonderlike dae van son, see, romanse en pret wanneer die skip van Durban na ‘n Portugese eiland vaar - dit sluit in verblyf vir jou en jou metgesel, drie maaltye per dag, die beroemde middernagfeeste, vertonings elke aand, disko, partytjies vir enkellopendes, toegang tot die casino - en die Gerrie Pretorius vertoning!

Gedurende die dag kan jy deel in die pret en speletjies of bloot luilekker by die swembad ontspan. Daar’s ook hope dinge vir die kinders om te doen.

Bespreek nou en jy en jou metgesel sal ‘n spesiale 25% afslag ontvang. Skakel Starlight Cruises by 0860-11-44-11. Voorwaardes geld.


EK WENS

Ná die aankondiging van die EK WENS-projek, het RSG sowat 4,000 briewe, fakse en e-posse gekry waarin luisteraars hulle wense vir hulleself en ander mense uiteensit, in die hoop dat dit bewaarheid sal word. Die paneel beoordelaars het weke lank deur die stapels wense gesif om ‘n paar verdienstelike wense te keur.

RSG is in tans gesprek met ‘n vennoot om te help om die wense uit te voer. ’n Aankondiging sal in Januarie hieroor gedoen word. Luister gereeld na RSG op 100 tot 104 FM of op www.rsg.co.za.

Baie dankie aan elke luisteraar wat ‘n wens vir hulleself of namens iemand ingestuur het - dit het RSG ‘n blik gegee op die uiters moeilike omstandighede wat sommige mense beleef.


VERTEL JOU STORIE OP RSG

Die kuns van storievertel gaan weer op RSG herleef met die bekende storieverteller en skrywer Elias Nel aan die stuur van die projek.

RSG en die ATKV span kragte saam om unieke vertellers met unieke stories te ontdek. Die juweeltjies sal in die loop van 2009 op RSG uitgesaai word.

Elias of Jassie soos hy ook bekend is, gaan die projek aanpak in sy hoedanigheid as projekorganiseerder by die ATKV se streekkantoor in Kaapstad. Met ‘n mikrofoon in die hand gaan hy binnekort die platteland invaar, die talentvolle storievertellers uitsnuffel en hulle verhale op band vaslê.

“Dis hartseer dat baie voorslagvertellers sterf sonder dat die breër Afrikaanse gemeenskap met hulle vermoëns kennis gemaak het en so gaan baie wonderlike stories verlore. Ek is op soek na feitelike verhale en humoristiese stories en selfs die wat met ’n tikkie weemoed vertel word,” sê Nel.

Volgens hom bring stories mense uit alle sfere bymekaar - die hoogleraar en die skaapwagter kan ’n verhoog deel en die gemene deler is die storie.

RSG se bestuurder, Magdaleen Krüger, sê die projek saam met die ATKV pas perfek in by die RSG se missie om ’n stem te gee aan die tongval van Afrikaans en mense se stories van hartseer, vreugde en sukses met luisteraars te deel. Sy nooi talentvolle storievertellers om van hulle te laat hoor.

Elias Nel is reeds in die Namakwaland se geweste op die spoor van storiepraters van formaat om radio-opnames vir RSG te maak. Hy sal plekke soos Springbok, Nababeep, Steinkopf en Oukiep besoek. Storievertellers kan hom kontak by elias@atkv.org.za of 083-347-6068.


GROTER WENTJEKS VIR RADIODRAMAS KRY BAAS

Die wenners van RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie vir 2008 wat in ’n nuwe formaat en met hoër prysgeld aangebied is, is onlangs aangekondig.

Die wenteks is DROOMSKIP wat deur SD Fourie van Gansbaai geskryf is en vir haar ’n skaflike meevaller van R20,000 in die sak bring. In die tweede posisie verdien André Kotzé van Struisbaai se JUDASBOK vir hom R10,000. Die derde prys van R7,000.00 gaan aan Martin Jansen van Florida in Johannesburg vir sy drama KARAKTERMOORD.

Ná deeglike oorweging is besluit om nie vanjaar ’n aansporingsprys toe te ken nie. Die meeste van die sterk werk het gekom van ervare skrywers wat nie daarvoor sou kwalifiseer nie.

Dit is nie die eerste keer dat radiodramas van Fourie en Kotzé onder die pryswenners is nie. Kotzé is in 2001 en Fourie in 2004 met die derde plek in die beginnersafdeling bekroon.

Die kompetisie is vanjaar die 12e keer aangebied en anders as in die verlede was daar hierdie keer net een afdeling.

Die beoordelaars was die gesoute uitsaaipersoonlikhede Verna Vels, Joey de Koker en Eben Cruywagen. Volgens hulle was die beoordelingsproses besonder moeilik aangesien die top tekste baie na aan mekaar gelê het en daar dus min tussen hulle te kies was.

Die oes was egter opwindend met talle bekende name tussen die 99 drama’s wat gekwalifiseer het en genoeg opvoerbare tekste om ’n hele seisoen van 13 drama’s te vul, sê Margot Luyt, RSG se uitvoerende dramaregisseur.

“Die kompetisie se oogmerk is om nuwe skryfwerk van hoogstaande gehalte te vind en dit is beslis vanjaar bereik.”

RSG sal die wentekste opneem en uitsaai en daarvoor sal die skrywers teen die gewone uitsaaigelde vergoed word. Van die ander tekste wat vir uitsending geskik is, sal ook teen die gewone vergoeding opgevoer word.

Die kompetisie vir 2009 sal binnekort aangekondig word.


TUISGEMAAKTE MUSIEK OP RSG

‘n Nostalgiese musiekreeks begin vroeg in die nuwe jaar op RSG. In die jare vyftig het die SAUK begin met transkripsie opnames. Dié opnames is spesifiek gemaak vir die SAUK se gebruik in uitsendings op sy radiostasies. Van die kunstenaars is bekend, maar tog is daar heelwat kunstenaars en musiek wat nie dikwels in die kommersiële handel beskikbaar is nie. Kunstenaars soos die pianis Albie van Schalkwyk, die violis Piet Koornhof, die tenoor Sjoerd Beute, die sopraan Nellie du Toit, Eva Tamassy op dwarsfluit, die SAUK-orkes en die Bachkoor asook Oliver de Groote, die befaamde klarinetspeler sal gehoor word in TUISGEMAAK. Tharien Oosthuizen is die navorser, samesteller en aanbieder van die program. Die reeks van 13 episodes begin op Dinsdag 6 Januarie om 22:30 en word herhaal op Sondagoggende net na die 10-uur nuus.

LYNETTE NOU OOK OP SABC3!

Ons ken haar as ‘n RSG omroeper wat sterk standpunt inneem en nie huiwer om haar sê te sê nie. Die luisteraars is gewoond om Woensdagaande saam met Lynette Francis vanuit Kaapstad te kuier. Maar nie vir lank nie… baie vroeg in die nuwe jaar verruil Lynette Tafelberg en die see vir die stadsgewoel van Johannesburg. Lynette sal van Januarie af in die oggende die 07:00 nuusbulletin op SABC3 lees. Sy sal steeds haar Woensdagaandskof en programme op RSG behartig. Lynette sê sy is baie opgewonde oor haar werk in Johannesburg en sien uit na die utidagings wat haar loopbaanskuif sal bied.

MARTELIZE STAAN IN VIR FREEK OP PRAAT SAAM

Die aanbieder van PRAAT SAAM, Freek Robinson, gaan van Kersfees af met ‘n welverdiende blaaskans. Op Kersdag is daar nie ‘n uitsending van PRAAT SAAM nie en op Vrydag 26 Desember sal die uur tussen 08:00 en 09:00 gevul word met die sprankelende persoonlikheid van Johan Rademan. Hy sal op en wakker musiek in die gees van die oujaar speel en ‘n mens sien sommer al klaar uit na sy spitsvondighede. Daar sal van Maandag 29 Desember tot Vrydag 2 Januarie ook geen PRAAT SAAM wees nie - net ’n verlengde OGGEND OP RSG met Martelize Brink.

Van Maandag 5 Januarie tot Vrydag 9 Januarie sal Martelize Brink die leisels van PRAAT SAAM oorneem.


CHRISTELLE WEBB-JOUBERT REIS LAND PLAT OP SOEK NA KUNSSTORIES

Christelle Webb-Joubert, ywerige aanbieder van RSG Kuns (Dinsdae 21:10 - 22:00) het in November met ‘n bandmasjien oor die skouer ‘n naweek in Rosendal in die Oos-Vrystaat gaan uitspan. Daar het sy onderhoude gedoen met die bekende akteur Chris van Niekerk wat die groot stad verruil het vir die stofstrate van Rosendal. Sy het ook ‘n draai gemaak by die kunstenaars Michelle Nigrini en Dahla Humle, die eienaars van die galery Meerkatkolonie. André Loots, Zaria de Villiers en Willem Pretorius het ook hulle kunskennis met Christelle gedeel. Die onderhoude wat in Rosendal opgeneem is, word nog tot in Januarie op RSG Kuns uitgesaai.

Intussen het Christelle, vergesel van haar man Henry, ook die musikale fees van die Drakensbergse Seunskoor bygewoon. Die onderhoude wat sy met van die seuns en met die dirigent, Johan van der Sandt opgeneem het, word op 23 Desember in RSG Kuns uitgesaai. En as jy wonder hoe lyk Christelle en haar man Henry, blaai gerus deur die Januarie uitgawe van die tydskrif LEEF. Daar is ‘n lekkerlees artikel oor die jong egpaar.


RSG JOERNALIS KRY DIE STROP OM DIE NEK

Suzanne Kok, een van die joernaliste van die nuusaktualiteitspan verantwoordelik vir Monitor, Spektrum en Naweekaktueel, het op Saterdag 6 Desember glimlaggend die knoop deurgehaak met Piet Paxton, ‘n luitenant-kolonel in die weermag. Vriende en familie het van regoor die land af saamgetrek by die De Rust-natuurreservaat naby Kroonstad waar daar die hele naweek makietie gehou is. Selfs die bruidspaar kon hulle nie wegskeur nie en het Sondagoggend nog gekuier en nabetragting gehou saam met die gaste.

Luisteraars assosieer Suzanne se vrolike stem met die verkeersverslae soggens op Monitor tussen 06:00 en 08:00. Sy het die vermoë om op die lug met ‘n kwinkslag of twee sprankel te verleen en om menige motoris wat gefrustreerd in ‘n verkeersknoop sit, te laat glimlag. Sy doen ook gereeld onderhoude oor verskeie nuusgebeure en het ook begin om op Naweekaktueel, Monitor en Spektrum in te staan wanneer die programme se aanbieders nie beskikbaar is nie.

Suzanne het in haar pragtige trourok op haar kenmerkende spontane manier gesprankel en die vonkel in haar en Piet se oë het boekdele gespreek. Ria, Suzanne se ma, sê die twee pas bymekaar en haar enigste dogter het die regte keuse gemaak met haar lewensmaat. Hulle deel belangstellings soos onder meer die buitelewe en die belangrikste van alles… hulle verstaan mekaar!

Suzanne se kollegas het self ervaar hoe Piet belangstel in haar werk en die nodige ondersteuning bied - ongereelde ure en spertye kan nogal veeleisend raak! Die wittebrood is in Zanzibar gehou en soos wat dit ‘n vindingryke bruidegom betaam, het selfs die bruid eers ná die huwelikseremonie uitgevind waar hulle heen oppad is! Suzanne Paxton sal op 5 Januarie weer terug wees op kantoor.


RSG NUUSSKRYWER AANGEVAL

Een van RSG se nuusskrywers, Niel Saayman, is op ‘n sonnige Sondagoggend in November langs die viswaters aangeval en beroof.

Hy vertel die storie: “Ek het die oggend vyfuur wakker geword. Dit was ‘n pragtige somersoggend en ek het my hengelgerei gevat en is met my motorfiets vort na die dammetjie, sowat drie kilometer van my huis af. Ek was seker so ‘n uur of wat besig sonder geluk, toe my geluk skielik nóg slegter word. Twee ouens het uit die bosse verskyn en met my oor visvang begin praat.

“Toe ek weer sien druk die een ou ‘n mes in my ribbes en die ander man staan met sy hand agter sy rug en sê hy gaan my skiet as ek nie saamwerk nie. Ek het nooit sy vuurwapen gesien nie, maar ek het saamgewerk. Intussen het nog ‘n boosdoener opgedaag en hulle het deur my rugsak en broeksakke begin grawe. Die een ou het die hele tyd gesê “Ons wil jou nie dood maak nie my lanie, werk net saam. Dis mos Krismis en ek het kinders om te voer.” Hulle het my bankkaarte gevat en my met die mes gedreig om die PIN-kode vir hulle te gee. Dis baie moeilik om jou PIN te onthou as drie ouens jou op die grond vasdruk! Die een is toe daar weg met my kaarte terwyl die ander twee by my bly. Ongelukkig was een van dié wat by my gebly het die een wat die hele tyd gesê het: “Ons gaan jou dood maak!!”

“Hy het my toe met sy mes in my linkerhand gesteek. Gelukkig met sy mes, want my mes, wat hulle ook gevat het, het ek die vorige dag geslyp. Dié sou seker regdeur my hand gegaan het. Behalwe daarvoor het dié ou my die hele tyd teen die kop geskop, en bo-op my gesit sodat ek gesukkel het om asem te haal. Hulle het my selfoon gekry en my gedwing om dié se PIN-kode te deaktiveer. Daarna het hulle my hande en voete met plastiekbande vasgebind. Hulle het ook my skoene uitgetrek. Toe steek hy my weer in die hand!

“Die skobbejakke het toe in my motorfiets geïnteresseerd geraak. Maar die motorfiets het ‘n immobiliseerder wat dit ingewikkeld maak om dit aan te skakel, veral as jy nie kan motorfiets ry nie. Ek het ‘n kans gekry om my voete los te wikkel en in die proses my bene oop gesny. Ek het besluit ek gaan in die dam spring om van hulle af weg te kom, en dit toe gedoen. Gelukkig was die dam nie só diep nie, want my hande was nog vasgebind en my voete ook nie heeltemal los nie. Ek is kaalvoet deur die dam, op by die riete aan die ander kant en deur die veld. Ek het ‘n slag my wind uit geval toe ek die toue raaktrap en besef hoe onfiks ek is.

“By die teerpad het ek my hande losgekry, en huistoe begin stap. Ek het nie van enige iemand verwag om my op te laai nie, maar ek was bietjie ontsteld toe die Metropolisie vir my waai toe ek hulle probeer stop!

“Ek het gehoop die skelms kan nie my motorfiets aan die gang kry nie, maar toe ek, my pa en broer later teruggaan, is daar net spinmerke waar die fiets gestaan het. Ek is polisie toe om ‘n verklaring af te lê en daarna hospitaal toe vir ‘n inspuiting teen allerhande slegte goete. Die polisie het intussen my motorfiets teruggekry - minder as twee ure nadat ek die saak aangemeld het!

“Nou word ek verbied om weer na dié dammetjie te gaan. Blykbaar is dit nie veilig daar nie...”


RSG BIED VERMAAK VIR OUD EN JONK BY DIE SUIDOOSTERFEES 2009

Daar lê ‘n fees van RSG-uitsendings voor by die Suidoosterfees van 2009! Ons kuier weer in die Kaap op Saterdag 31 Januarie en Sondag 1 Februarie. RSG se musiektent by die Kunstekaap Piazza beloof om vermaak uit die boonste rakke te bied met ‘n program van vooraanstaande en opkomende kunstenaars.

Die gebruiklike regstreekse uitsendings van ‘n paar RSG programme is ook iets om na uit te sien: Bon Voyage en Konsertinaklub met Johan Rademan, Kapityt! en ‘n RSG Gospelkonsert met Fritz Klaaste.

Die RSG-omroepers Amanda Olivier, Johnny Davids, JP Keyter en Christine Wessels sal ook by die fees wees. Bekende kunstenaars wat musikale pret sal verskaf, is Emo Adams, Jody Williams, Die Broers, Thabo Hlongwane, Rouchelle Liedemann, Ani Davids en vele meer.

Ons sien daarna uit om ons gereelde luisteraars by die RSG-tent te sien, maar ons nooi ook feesgangers wat nog nie voorheen RSG se aktiwiteite by die Suidoosterfees bygewoon het nie, om by ons te kom kuier. RSG se volledige Suidoosterfees-program sal in Januarie op RSG se webwerf beskikbaar wees.

  • ‘n Radiowerksessie vir hoërskoolleerders word op Vrydag 30 Januarie deur Fritz Klaaste aangebied. Die Dinamiese Wêreld van die Radio-werksessie gee leerders meer agtergrond oor die radiobedryf, programsamestelling, radiodramas, nuus en musiekprogramme.
  • Die Jakes Gerwel Gesprekreeks, aangebied deur Die Burger in samewerking met RSG, se tema is HOE WAAI DIE WIND. Kom luister en neem deel op Vrydag 30 Januarie om 09:30 in die RSG Tent en Saterdag 31 Januarie om 10:30 by Isibaya.


MEER
WENNER VAN TV LISENSIES-KOMPETISIE

Baie geluk aan Andrew Solomons van Eersterivier in die Kaap wat die trotse eienaar is van ’n nuwe TV en DVD-speler met die komplimente van SABC TV Lisensies en RSG.

Andrew het ingeskryf vir die TV Lisensie SMS-kompetisie en is op 8 Desember tydens Tjailatyd as wenner aangekondig. Enige persoon met ‘n geldige TV-lisensie kon deelneem aan die kompetisie.

Het jy geweet?
Enige persoon wat in besit is van en/of ‘n televisiestel gebruik moet ten alle tye in besit wees van ‘n geldige, ten volle opbetaalde TV-lisensie. ‘n TV-lisensie bly betaalbaar ongeag of die stel gebruik word of nie en ongeag na watter kanale gekyk word.


MEER
  SA Top 20 vir week geëindig 13 Des 2008
Suid-Afrika se enigste amptelike Top 20 is eksklusief aan RSG. Luister elke Saterdag van 13:00 tot 14:00 na Ettienne Ludick wanneer hy snitte speel van die afgelope week se topverkoper CD's.

1. Verskeie Kunstenaars Now That's What I Call Music Vol. 50
2. Kurt Darren Uit die diepte van my hart
3. Verskeie Kunstenaars Afrikaans is groot
4. Verskeie Kunstenaars High School Musical 3
5. Josh Groban A Collection
  Leon se Fliekrubriek
MRS. RATCLIFFE'S REVOLUTION
Datum Uitgereik: Vrydag, 12 Desember 2008

Ons het so ʼn paar weke gelede die voorreg gehad om te sien hoe MISS PETTIGREW vir ʼn dag lank ʼn lew...

MEER

GRADERING UIT 10:
  Resepte
Annelien se lekkerbek-aartappels
12 Desember 2008

Kook aartappels in skil in soutwater, sny in skyfies op.
Braai uie, sampioene en spek in ‘n pan met bietjie olie.
Sit aartappels en uiemengsel in oondbak en gooi room en ekstra ryp cheddarkaas oor.
Bak in oond vir 20 minute teen 180 grade Celcius.


MEER

GRADERING UIT 10:   
  Sportskedule
18 Desember Gholf, S.A. Ope Kampioenskap
Dag 1
Verskeie spelers
15:30-15:35

Pearl Valley Gholflandgoed
19 Desember Gholf, S.A. Ope Kampioenskap
Dag 2
Verskeie spelers
15:30-15:35

Pearl Valley Gholflandgoed
20 Desember Gholf, S.A. Ope Kampioenskap
Dag 3
Verskeie spelers
14:00-16:00

Pearl Valley Gholflandgoed
21 Desember Gholf, S.A. Ope Kampioenskap
Dag 4
Verskeie spelers
13:55-14:00
17:55-18:00

Pearl Valley Gholflandgoed
23 Januarie Atletiek, Geel Bladsye Reeks
Eerste byeenkoms
Verskeie atlete
18:00-21:00

Kenneth McArthur Ovaal, Potchefstroom
  Bepaling en Voorwaardes | ©2007
RSG is 'n Openbare Diens Radiostasie van die SABC
Kanselleer subskripsie