As jy nie hierdie nuusbrief kan lees nie, klik hier
Header Luister
Nuusbrief 38 Woensdag 11 Julie 2012
  Hallo [name],

Hier is RSG se jongste elektroniese nuusbrief propvol interessante nuus!

As jy nie meer hierdie nuusbrief wil ontvang nie, klik op die skakel heelonder aan die nuusbrief.

 
 
AMANDA TREE AF
Amanda tree af

Amanda Olivier het einde Junie ná 30 jaar by die SAUK afgetree. En met haar aftrede gaan daar ‘n stukkie kundigheid en wysheid en vaardigheid ook weg uit RSG. En hope lag. Maar ons het darem daarin geslaag om haar te oorreed om met sekere programme aan te gaan (ons moes haar eintlik dreig, nie oorreed nie) want sy wil net die pad vat en rondrits! In die 30 jaar se werk by die SAUK het Amanda die volgende paaie geloop… sy vertel self:

"Ek het my loopbaan as onderwyseres afgeskop en dit toe verruil vir die opwindende wêreld van koerantjoernalistiek. Toe is ek Durban toe verplaas om vrou-alleen die nuus in Durban en omstreke vir die destydse PERSKOR-groep te dek. My tweede naam is waagmoed, dus het ek by die SAUK in Durban se nuuskantoor as radiojoernalis aangesluit. Radio het sy lêplek in my bloed gekry en die volgende stap was om 'n omroeperstoets af te lê. Dit het ek met vlieënde vaandels geslaag. Toe is ek Johannesburg toe verplaas waar ek nog eers 'n rukkie in die nuuskantoor gewerk het, voordat my omroepersloopbaan in Pretoria begin het onder die wakende oog van Albe Grobbelaar van Historiese Almanak-faam. Daar het ek onder meer Siembamba, Saterdagsaluut, Wat sê die Veearts en verskeie musiekprogramme aangebied. Monitor en Spektrum het later vir my 'n pos as aanbieder van dié aktualiteitsprogramme aangebied en toe is dit weer terug na die Goudstad toe.

"Toe my man, Jan Olivier, Bloemfontein toe verplaas is as redakteur van radionuus, was die Rosestad ook my voorland. Daar was nie 'n pos beskikbaar by die destydse Afrikaanse Diens nie en ek het as omroeper by die destydse Radio Oranje ingeval. Intussen het ek my as skakelbeampte bekwaam en vir 'n paar jaar Radio Oranje se skakelwerk gedoen en die SAUK in Bloemfontein se publisiteit en interne nuusbrief behartig. Maar die mikrofoon het hard geroep toe daar 'n vakante pos in Bloemfontein ontstaan het en ek daarna vir jare Wat sê die Dokter en Verbruikersake en weer eens Siembamba aan die luisteraars uit Bloemfontein verskaf. Ná my man, Jan, se afsterwe in 2002 is ek terug Johannesburg toe en het ek die lig afgeskakel en die deur toegemaak van Afrikaanse uitsaai vanuit die Vrystaat.

Terug in Johannesburg het ek dit mateloos geniet om RSG Kuns, Wat sê die Prokureur en Kopskuif aan te bied, dokumentêre programme saam te stel en natuurlik my groot liefde, musiekprogramme, aan te bied. Die sirkel is voltooi toe ek my uitsaailoopbaan - wat met Siembamba begin het – verlede maand afgesluit het met, wel, Kinderhoekie!"


HIPHOPKOP
HipHopKop

Wat is die verskil tussen hip-hop en rap? Wat is al die elemente wat van hip-hop ‘n lewenstyl eerder as net ‘n musiekbeweging maak? Waar het hip-hop begin, waar pas Suid-Afrika daarby in en watter invloed het hip-hop op die res van die musiekbedryf?

As jy al ooit oor enige van hierdie vrae gewonder het sal die nuwe RSG-program HipHopKop wat Maandag op RSG begin het, jou baie kan leer.

Oor ‘n periode van 12 weke sal verskillende aspekte van hip-hop bespreek en verduidelik word. Hierdie 50-minuutlange musiekprogram dien as ‘n afskoppunt vir musiekliefhebbers wat meer van die onderwerp wil weet.

Oor die 12 weke sal daar gekyk word na die oorsprong van hip-hop, die liedjies wat dit kommersieel suksesvol gemaak het, die Kaapse ondergrond hip-hop beweging en die invloed wat plaaslike hip-hop tans oorsee het. Liedjies van kunstenaars soos The Beastie Boys, Ice-T, Public Enemy, Cypress Hill, Prophets of da City, Isaac Mutant, Skwatta Kamp, Jack Parow en Tribal Echo sal gespeel word.

Die aanbieder van die program is Simon Witbooi, beter bekend in die hip-hop wêreld as Hemelbesem. Hemelbesem het reeds vyf Afrikaanse hip-hop albums uitgereik en is bekend as radio-omroeper vir Valley FM op Worcester. Hy MC onder andere die HipHopKop-projek en is ‘n edutainer vir onder andere Fetale Alkoholsindroom-projekte. Sy nuutse kortspeler, Hoe Salla van die album Uwilismakliki, was nommer een op die legendariese DJ Ready D se radioprogram op Good Hope FM. Hy is in 2010 gekroon as die Freestyle kampioen by die African HipHop Indaba.

Die programvervaardiger is Deon Maas.

HipHopKop - Maandagaande 21:10 op RSG.


75 JAAR VAN RADIODRAMA
75 jaar van radiodrama

Verlede week Donderdag het 'n nuwe reeks van 13 episodes begin oor die kuns van storievertel op die draadloos die afgelope driekwarteeu.

Elke aflewering is ‘n storie op sy eie… met al die kunstenaars en skeppers wat oor die jare deel was van die unieke vertelkuns. Party name het jare lank voortgeleef, ander is vergete, maar almal het luisteraars weggevoer na ‘n teater van die verbeelding waar die dag se sorge vergete was.

Van Die Du Plooys van Soetmelksvlei tot Hamlet in ‘n briljante vertaling in Afrikaans… van die staaltjies en onvoorsiene gebeure met regstreekse uitsendings tot die kenwysies wat baie herinneringe oproep – dis alles weer by die mikrofoon. Soos van ouds -toe dit storietyd was op ‘n weeksaand, stiptelik ná die huisgodsdiens om kwart oor sewe.Almal saam om die draadloos.

Kom neem jou plek in: Donderdagaande 20:30. Die reeks word vervaardig deur die bekroonde dokumentệre programmaker, Bettie Kemp.


WOLWEDANS TERUG OP RADIO
Wolwedans terug op radio

Dit het aanvanklik as ʼn doodgewone radioverhaal begin wat in opdrag van die SAUK in 1980 geskryf is “om vernuwing na radio te bring.” Destyds het elke radioverhaal ʼn plaasagtergrond gehad met eksentrieke karakters wat vir jare lank eindeloos geredekawel het oor daaglikse doen en late. Toe Francois van Heyningen aan Leon van Nierop, wat toe pas Hotel Shwalane en Die Huis in Hertestraat (ook albei romans) vir die Afrikaanse Diens geskryf en opgevoer het, opdrag gee om “iets anders” te skryf, het Leon besluit om radio se eerste riller te skryf wat in die Laeveld in ʼn spokerige hotel in die mistige klowe van Hazyview afspeel.

Hy het ook besluit dat daar nie net in elke episode nie, maar in elke toneel iets moet gebeur wat die storie in ʼn ander rigting stuur. Karakters sou nie sommer net sit en gesels en tee drink nie. Hier sou aksie, atmosfeer, kinkels, komedie, drama, ril-elemente en tragedie wees, alles saam in een episode.

WOLWEDANS IN DIE SKEMER gaan oor die legendariese Hotel Njala wat ʼn nuwe ontvangsdame (Sonja Daneel) kry wat moet aanmeld vir haar eerste skof. Op pad hotel toe sien sy ʼn wolf in die bosse en maak 'n ongeluk. Sy ly aan geheueverlies. Hoe harder sy probeer om uit te vind wie sy was, hoe minder vind sy uit met al haar voormalige vriende en kennisse wat van haar af wegvlug of wat wegskram van die waarheid.

Gou kom sy agter dat sy tevore by die hotel betrokke was, maar die gesin ken haar op die oog af nie. Dan ontmoet sy Ryno Lategan, die loslit toergids, en sy raak dadelik op hom verlief. Skielik word daar aanslae op haar lewe gemaak en word sy (en ander mense) deur ʼn bylmoordenaar geterroriseer. Wie is dit en hoekom word juis sy geteiken? En wie of wat is die wolf wat in die bosse skuil?

Nou het RSG besluit om dieselfde verhaal te moderniseer en na 2012 te verskuif, wat ʼn nuwe dimensie en dinamika na die karakters en aksie bring. Sonja reis steeds na Hotel Njala en beland steeds in ʼn motorongeluk en ontmoet steeds dieselfde gesin. Maar 2012 bring baie veranderinge teweeg, onder andere die siniese Luitenant Conrad Nolte en sy assistent sersant Berta van Schalkwyk wat nou die moorde in die hotel ondersoek.

Ter viering van 75 jaar van Afrikaanse radio, het Leon van Nierop hierdie verhaal weer spesiaal vir die radio herskryf en by moderne tye aangepas. Maar die atmosfeer, die legendariese musiek, die kenwysie (Nadia se Tema uit Michell Strogoff) en aankondigings deur Roelf Jacobs, en die storie wat ʼn miljoen mense daagliks vasgenael gehou het, word weer vertel.

En die vraag is uiteindelik: wie is die wolf? Wie is die moordenaar? En presies wat beteken die reël: “wolwedans in die skemer” wat Diana se man Jan Joubert net voor sy dood prewel?

En natuurlik die waarskuwing (wat vele bewonderaars nog steeds na 30 jaar woordeliks kan opsê):

As die hadida oor ʼn huis vlieg en sy angsroep oor die vallei skeur
Sê hulle dat iemand gaan sterf.
Dis dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kruip ...
As antwoord op die roep.

Van Maandag 6 Augustus af elke weeksmiddag 14:45 slegs op RSG.


COBUS BESTER SÊ SY KINDERS HOU HOM ARM EN OP SY KNIEË
Cobus Bester sÊ sy kinders hou hom arm en op sy knieË

Dis Cobus Bester, aanbieder van Monitor wat elke oggend, sonskyn of storm, winter of somer, by die Monitor-ateljee aanmeld. Maar agter die skerms is Cobus nogal ‘n mens met baie meer belangstellings as net nuus en aanbieding. En dan hou sy kinders hom ook arm en op sy knieë – voor sy bank bestuurder! Vandat sy twee seuns in die seilvaart begin uitblink het, het die volwassenes in die gesin, dis nou Cobus en sy vrou Elmarie, nie genoeg geld om enigiets anders te doen nie. Hy moet maar sy vermoeide lyf soggens halfvyf die kantoor insleep om voor te berei vir die uitsaai van die aktualiteitsprogram, Monitor, tussen 06:00 en 08:00 elke weeksdagoggend.

Cobus is al sedert 1978 by die SAUK, aanvanklik by televisie waar hy as beeldkontroleur, regisseur en joernalis gewerk het. In 1992 is hy aangestel as Ekonomiese Redakteur by Radionuus. Hy is sedert 1998 al agter die mikrofoon by Monitor.

Sy vrou , Elmaré, is Afrikaans-onderwyser by Northcliff High in Johannesburg. Hulle tweelingseuns, Zak en Jaco, is nou 14 jaar oud en in Graad 9 op Hoërskool Linden. Hulle het die afgelope vier jaar in die seilvaart gevestig geraak.

Wanneer hulle nie besig is om bote te sleep na een of ander seil-byeenkoms nie, is Cobus se mees geliefde tydverdrywe voëlkyk, fotografie, lees en musiekluister. Wat lees betref, is hy veral lief vir geskiedenis, filosofie en Britse en Europese speurskrywers.

“Ons het ook ‘n wegkruipplek in die Stormberg in die Oos-Kaap naby Dordrecht, maar die afgelope jaar of wat sukkel ons om tyd af te knyp om daar uit te kom. Dalk later vanjaar. Dalk.”


JEANE IS VERSOT OP RSG
Jeane is versot op RSG

So 'n rukkie terug kry Martelize Brink die volgende e-pos:

"Baie dankie tannie ek geniet die stasie as ek van die skool af kom sê my blinde ma vir my van al julle resepte dan moet ek dit kry op julle webtuis baie dankie vir julle wonderlike stasie."

Dit kom van die 11-jarige Jeane Flint, 'n gereelde RSG-luisteraar. Martelize vra haar toe om so bietjie meer oor haar te skryf en hier's wat sy te sê het:

"Ek, my broer Gerrie, ma Lianne en pa James bly in Boksburg. Ek het codal regresion sindroom, ek sal graag eendag Mej. Gestremd SA wil wees. My ma is swaksiende en van kleins af is ek saam in die kombuis as sy kosmaak. Ek hou van bak en kosmaak.

"Ek het al twee keer my hare gesny en geskenk aan CANSA vir n pruik. My gunsteling programme is Oggend op RSG, Ratels, Dieremaniere en Tjailatyd. Ek luister RSG want dit is 'n lekker luister stasie. Dankie Jeane Flint - 11 jaar oud."


KULSUM SE KOS KIKKER OP
Kulsum se kos kikker op

Kulsum Kamalie het drie passies: haar familie, kosmaak en RSG! Toe haar seun Riaz hoor daar is resepte op Tjailatyd, kontak hy Amore en sê sy moet sy ma bel.

Van daardie dag af kan luisteraars nie genoeg van Kulsum kry nie. "Sy praat die lekkerste Afrikaans. Luisteraars wil hê ek moet haar bel net om te hoor hoe sy praat," vertel Amore Bekker, aanbieder van Tjailatyd op RSG.

Kulsum bly al 33 jaar in Bonteheuwel en is getroud met Uthman. Hulle het vier kinders, Riaz, Faiek, Abudullah en Gadidja.

Sy het 26 jaar lank met gestremde mense gewerk by dagsorgsentrums in die Kaap, maar nou verwyl sy die meeste van haar tyd met kos en welsynswerk. Deel hiervan is Donderdae se sopkombuis by haar huis en die wegneem van kos na gemeenskappe soos Delft en Netreg. Sy's ook 'n toegewyde Moslem en was al 5 keer Mekka toe.

Onlangs was sy in Gauteng om vir Amore te  voer en om te bewys sy kan net so lekker kos maak soos sy praat!

Haar groot droom is om by 'n buite-uitsending van RSG kos te maak op die verhoog. Dit mag dalk net waar word...


MARTELIZE IS 'N PIENK PIKKEWYN
Martelize is 'n Pienk Pikkewyn

In Seepunt waar die waters jou lei. Hoe sterk is die wind vandag? Hoe hoog die deinings?

Op 'n stoep, om 'n braai, met dié waters as uitsig sê Joubert Cilliers vir my. "Ek was nog nooit Robbeneiland toe nie en wou nog altyd daarheen kajak. Kom ons doen dit vir 'n goeie doel." Ek sê nie sommer nee vir 'n uitdaging nie en so is die Pienk Pikkewyn-projek gebore.

Kyk, ek dink ek's nogal fiks, maar die eerste dag op die water was 'n leerskool. Roeitegniek en hoe om die water tot jou voordeel te gebruik, is belangrik. En die spiere was maar gevoelig die volgende dag!

Met die derde uittog het ons die eerste keer uit die Radisson-hawe beweeg op oop water. Jy besef vinnig op dié watermassa jy is nie regtig in beheer nie. Vrae duik op soos: "Hoe diep is dit hier? En wat gebeur as 'n haai aan die kajak stamp?" Joubert se antwoorde is eenvoudig. "Dit is te diep vir jou om te staan, so wat maak dit saak hoe diep dit is?" En blykbaar slaan jy net die haai op die neus en hoop dit gaan weg!

Ons lê tans met elke sessie 'n paar kilometer af. Die laaste keer het ons so 5 km bereik. Robbeneiland toe en terug is ongeveer 20 km.

Die Pienk Pikkewyn-projek sal met hierdie uitdaging bewustheid kweek en geld insamel vir MS-lyers in die land.

Luister na Oggend op RSG (Weeksdae 09:00 - 12:00) vir lekker gesprekke oor die kajak-leefstyl, fiksheid en hoe jy by die projek betrokke kan raak.

Vir navrae oor die projek stuur e-pos na brink@rsg.co.za.


RSG BRING MENSE BYMEKAAR
RSG bring mense bymekaar

Martelize Brink sê dit is 'n groot vreugde om elke dag met RSG luisteraars te kommunikeer. Sy kry elke dag die wonderlikste stories, grappe of foto's van koekies wat by die huis gebak word. Sy het onlangs die onderstaande e-pos  gekry. Dit het haar diep geraak hoe wonderlik ons Suid-Afrikaners is en hoe baie ons eintlik vir mekaar kan beteken, selfs so op 'n afstand.

"Martelize ek skryf vandag hierdie briefie aan jou want dit is iets wat na aan my hart lê. Ek en my man Gerhard het besluit ons vat 'n kaart en ry na al die mooi plekkies toe wat ons nog nooit gesien het nie, soos De Rust en Prince Albert. Oooo dit is pragtig.

"My ma luister al jare na RSG. Sy sê toe vir my ek moet ook luister na RSG. En wat 'n 'fees'. So luister ek en hoor 'n Dawid Slinger wat versoeke inskyf vir sy familie en vriende. Ek vra toe vir my ma en sy sê dat hy al jare so versoeke instuur. Ek besluit toe die eerste ding wat ek gaan doen is om vir Dawid Slinger op te soek.

"Ons ry tot by Ceres en vra waar ons hom kan kry. Hulle sê toe hy bly in die Koue Bokkeveld berg op. Wat 'n belewenis. Hy was skoon bewoë en ons ook. Hy kon nie glo dat ons al die moeite gedoen het om HOM op te soek nie. Ek het vir hom twee bottels truksvystroop geneem en toe gee hy vir ons 'n boks appels waarmee hul daar boer.

"Na 4 weke kry ek en Gerhard 'n groot koevert met 'n briefie in wat Dawid geskryf het om te sê ons het sy voete onder hom uit geslaan. Hy het ook vir ons 'n klomp stories gestuur wat hy self geskryf het oor sy lewe en 'n paar gedigte en vra dat ons dit moet bewaar, nie net in die kluis nie maar in ons harte ook.

"Martelize sal jy asseblief vir hom n boodskap stuur: AAN DAWID SLINGER BAIE DANKIE VIR DIE VOORREG DAT ONS JOU KON ONTMOET EN BAIE DANKIE DAT JY 'N SIELSGENOOT IS VAN ONS. JY MOET 'N WONDERLIKE DAG HÊ. LIEFDE GROETE GERHARD EN MARGARET LE ROUX EN JOYCE VAN 'CRADOCK."

Op die foto is Gerhard le Roux  en Dawid Slinger.


SA TOP 20 - 7 JULIE 2012
Suid-Afrika se enigste amptelike Top 20 is eksklusief aan RSG. Luister elke Saterdag van 13:00 tot 14:00 na snitte speel van die afgelope week se topverkoper CD's.

Verskeie Kunstenaars Now That's What I Call Music 61
Theuns Jordaan Roeper
Jay en Lianie Bonnie en Clyde
Verskeie Kunstenaars Trots Afrikaans 6
Justin Bieber Believe
FLIEKRUBRIEK  
FRIENDS WITH KIDS FRIENDS WITH KIDS
Datum Uitgereik: Vrydag 6 Julie 2012

Vriende sonder kinders sê nou die dag: hulle word geterroriseer deur familie wat met kinders by hulle afpak. Die rolprent FRIENDS WITH KIDS verduidelik hoekom kinders noodsaaklik is vir ʼn huwelik. Dit gee voor dat paartjies wat getroud is nie ware geluk sal vind tensy hulle met ʼn kroos begin nie. Jy kan natuurlik self besluit hoe jy oor die stelling voel, maar die fliek jaag jou ...



Meer

GRADERING UIT 10:

RESEPTE  
Variasies op 'n eiervrug Variasies op 'n eiervrug
Maandag 9 Julie 2012

Metode

Renee Duminy se variasie
Maak “kapok”-pampoen en voeg dennepitte en kaneel by.
Maak bolletjies en draai dit toe in gebraaide skyfies eiervrug.
Bak in lae oond vir so 10 minute.

Ansie Massyn se variasie
Sny alle kleure soetrissies, uie, aartappels, murgpampoen, tamatieskywe en eiervrugskywe op.
Gooi in 'n kastrol en pak dit in lae.
Laat dit stadig vir 15 tot 20 minute op medium hitte warm word.
Jy kan dit roer of in lagies hou.
Gaar vleis kan bygevoeg word en die volgende dag is die mengsel baie lekker as toebroodjievulsel.

Anoniem se variasie
Maak repies of gaatjies in die eiervrug se skil.
Sny die vrug in die helfte.
Sit knoffelbotter en sout en peper in die vrug en bak die helftes op ‘n plankie in die oond.
Bedruip die eiervrug deurgaans.
Die luisteraar sê dit is so lekker is dat jy uiteindelik die plankie kan eet!



Meer

GRADERING UIT 10:
SPORTSKEDULE  
14 Julie   Stormers teen Rebels
Superrugby
15:00

Nuweland, Kaapstad
Superrugby
14 Julie   Sharks teen Cheetahs
Superrugby
17:05

Mr Price Kingspark, Durban
Superrugby


 
Bepaling en Voorwaardes | ©2011 | RSG is 'n Openbare Diens Radiostasie van die SABC   
   
Kanselleer subskripsie