NOU OP DIE LUG
PRAAT SAAM is die kans vir elke luisteraar om sy sê te sê en deel te wees van die openbare debat. Dit is jou program om inligting te kry, ander se perspektiewe te hoor en gesamentlik te help soek na oplossings.
MEER INLIGTINGNuus
23 Februarie 2012
RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.-
Die mediese fonds, Resolution Health, hoop die ekstra een miljard rand wat die regering begroot het om proefprojekte vir die Nasionale Gesondheidsversekering te befonds, sal genoeg wees. Die fonds sê die eerste fase van die NGV is noodsaaklik vir die suksesvolle implementering daarvan. Die minister van finansies, Pravin Gordhan het dié nuwe maatreël in sy begrotingsrede aangekondig. Die hoofbeampte van Resolution Health, Mark Arnold sê dit is gerusstellend dat die regering erken dat die NGV aansienlik meer gaan kos as wat aanvanklik bereken is. Die mediese fonds, Medscheme is ook bly dat Gordhan meer praktiese stappe bekendgestel het oor hoe die NVG ingestel sal word, en hoe dit befonds sal word. Die uitvoerende hoof, André Meyer sê Medscheme verwelkom die feit dat die eerste vyf jaar daarop sal fokus om die openbare gesondheidsektor se infrastruktuur te verbeter en meer professionele mense op te lei.
-
Cosatu het hersiene tolgelde, soos uiteengesit in die minister van Finansies, Pravin Gordhan se begrotingsrede, verwerp. Gordhan het 'n eenmalige bydrae van meer as vyf miljard rand uit die begroting aan die Nasionale Padagentskap, Sanral, toegestaan. Hy sê die bydrae sal verseker dat tariewe verlaag word tot 30 sent per kilometer vir ligte voertuie en 20 sent vir motorfietse. Die hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi sê egter 'n staking teen die Gautengse e-tolstelsel sal aanstaande maand voortgaan.
-
Vier uit elke tien volwassenes in Suid-Afrika - of 38 persent - glo dat die regering goed, of redelik goed vaar in sy pogings om stygende lewenskoste in toom te hou. Dit is een van die belangrikste bevindings in die jongste IPSOS-opname, waarin die mening van Suid-Afrikaners oor landsake getoets word. Die opname is aan die einde van verlede jaar onder drie-duisend-500 volwassenes gedoen. Meer as die helfte van die respondente voel dat items soos voedsel, gesondheidsorg, onderwys, brandstof en onderwys moeilik is om te bekostig, en daarom word daar nie vir aftrede gespaar nie. Die opname toon dat spaargeld vir aftrede as 'n luukse beskou word. In nóg 'n internasionale internet-meningsopname het Suid-Afrikaners aangedui dat hulle nié positief is oor die ekonomiese groei in die land vir die volgende ses maande nie. Slegs 'n kwart van die respondente het verwag dat die streek se ekonomie binne enkele maande sal verbeter.
-
'n Tiener is dood in 'n ongeluk op die R-28 naby Randfontein, aan die Wesrand. Volgens paramedici het die motor die pad verlaat en verskeie kere gerol voor dit op die dak geland het. 'n Woordvoerder van ER-24, Derrick Banks sê die seun, wat vermoedelik tussen 13 en 14 jaar oud is, is uit die motor geslinger. Hy is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die motor, 'n dertigjarige man, en 'n 25-jarige vrou wat vier maande swanger is, is beseer en in die hospitaal opgeneem. Hulle toestand is stabiel.
-
'n Vol passasierstrein het in spitstyd teen 'n keermuur in Buenos Aires in Argentinië gebots en minstens 49 mense is dood. Sowat 675 mense is in die ongeluk beseer, waarvan minstens 200 in 'n ernstige toestand is. Ooggetuies sê die trein se remme het geweier toe dit die stasie in die westelike buitewyke van die hoofstad binnegery het. Die regering het twee dae van rou afgekondig en 'n reuse karnaval gekanselleer wat môre sou plaasvind.

