Interaktief

Nuus

SOEK

Datums
calendar calendar

16 Augustus 2019

RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.
  • Die Bankvereniging van Suid-Afrika - Basa - het president Cyril Ramaphosa skerp gekritiseer dat hy die Nasionale Kredietwysigingswet onderteken het. Basa sê dit sal die vermoë van banke beperk om lenings aan arm mense te verskaf. Die Vereniging sê deur voorsiening te maak vir die arbitrêre skrapping van skuld, voorkom die wet effektiewelik dat banke verantwoordelike krediet kan verleng -- veral aan laer-inkomste huishoudings. Basa sê dié skuif deur die Ramaphosa administrasie sal die koste van krediet verhoog. Die Vereniging sê hy het dit herhaaldelik aan die regering uitgewys dat die wysiging van die Nasionale Kredietwet nie 'n volhoubare skuldverligtingsmaatreël is nie.

  • Die voormalige hoof van die Vrystaatse Departement van Landbou, Peter Thabethe, het voor die Staatskapingskommissie getuig dat Suid-Afrikaanse suiwelmaatskappye nie daarin belang gestel het om in 'n vennootskap met die departement oor die mislukte Estina-suiwelplaasprojek by Vrede betrokke te raak nie.Thabete het gereageer op 'n vraag van adjunk-hoofregter Raymond Zondo oor waarom die departement nie met plaaslike maatskappye saamgewerk het nie. Thabethe voer aan hy het verskeie maatskappye soos Nestle, Parmalat en Clover genader, maar hulle was nie bereid om by die projek betrokke te raak nie. Meer as 200-miljoen rand se openbare fondse is in die oprigting van die suiwelverwerkingsaanleg belê.

  • Gemeenskapslede van Upington in die Noord-Kaap het 'n optog gehou teen die toenemende geweld teen vroue in die gebied. In die jongste voorval is die 14-jarige Esmeralda Isaacs verlede Sondag met 'n mes doodgesteek. Verlede maand is 'n bejaarde vrou, Katriena Bok verkrag. Sy is later aan haar beserings dood. Die gemeenskap het 'n petisie aan die polisie oorhandig waarin hulle vra vir strenger optrede. Esmeralda McKay het die optog gereël.

  • Buitensporige kabeldiefstal veroorsaak groot rioolprobleme by dorpe van die Matjhabeng munisipaliteit in die Vrystaat. Die munisipaliteit sê swaar gewapende mans het sekuriteitswagte oorrompel en 'n rioolaanleg geplunder. In Junie vanjaar is elektriese- en koperkabels gesteel. Dit het gelei tot probleme met kragtoevoer na verskeie gebiede in Welkom. 'n Private ondersoeker wat vir die munisipaliteit werk, Bokvel Petersen, sê die munisipaliteit word gesaboteer en werkers word met wapens gedreig.

  • 'n Saak van mensehandel is in die landdroshof in Kaapstad tot volgende Vrydag uitgestel vir 'n amtelike borgtogaansoek. 'n Man is vroeër die week in hegtenis geneem ná hy na bewering sy slagoffer onder valse voorwendsels van Gauteng na Kaapstad gelok het. 'n Woordvoerder van die Valke, Philani Nkwalase, sê die slagoffer is in 'n huis in Brooklyn toegesluit waar sy glo gedwing is om by dwelms en prostitusie betrokke te raak. Terwyl sy op straat gewerk het het sy dit reggekry om die aandag van 'n verbygaande wetstoepasser te trek. Die slagoffer is na 'n veilige plek geneem en die verdagte is in hegtenis geneem.

  • Rugbynuus: Die Griekwas het die Westelike Provinsie met 27 punte teenoor 23 geklop in die Curriebeker-kragmeting in Kimberley. Die halftyd telling was 14 - 3 in die guns van die Griekwas. Die oorwinning vir die Griekwas het hulle verseker van 'n plek in die halfeindronde. Dit is die eerste keer sedert 1998. Die nederlaag bemoeilik die WP se kanse om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.