Nou op die lug

Deurnag (Donderdag)

00:00-04:30

Empty

Interaktief

Nuus

SOEK

Datums
calendar calendar

18 Augustus 2019

RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.
  • Aktivistegroepe sê die Nasionale Vervolgingsgesag in Noordwes se ondersoek na die Marikana-tragedie is verdag. Vrydag was die sewende herdenking van die dag toe 34 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is tydens 'n loonstaking by Lonmin, wat nou deur Sibanye-Stillwater besit word. 'n Woordvoerder van die Marikana-ondersteuningsveldtog, Rehad Desai, sê hulle glo die NVG in die provinsie probeer die polisiebeamptes beskerm. Volgens Desai het die polisie ministerie se eie ondersoek aanbeveel dat 71 beamptes vervolg word, maar nog net agt het in die hof verskyn en die saak word elke keer uitgestel.

  • Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het sy meegevoel uitgespreek met die naasbestaandes van diegene wat in 'n ongeluk op die N1-snelweg in Johannesburg dood is. Tien mense het gesterf toe 'n taxibestuurder glo beheer oor die voertuig verloor het. Hy het teen 'n hoë snelheid in die betonmuur vasgejaag wat die N1-noord van die N1-suid skei. Drie mense, onder wie 'n kind, het die ongeluk oorleef. Mbalula het die ongelukstoneel laatmiddag besoek. Hy was vroeër die dag in Pretoria waar hy 'n inligtingsessie oor die nuwe Aarto-wetgewing aangebied het. Mbalula sê dié wetgewing behoort by te dra tot die vermindering van die padsterftes. Motoriste wat oortredings begaan kry daarvolgens strafpunte en na twaalf strafpunte kan 'n oortreder se rybewys opgeskort word.

  • President Cyril Ramaphosa sê verwikkelings rondom die openbare beskermer en sy besluit om die hof te vra om haar verslae te laat hersien, sal hom nie stuit in sy pogings om die regering en die ekonomie te herstel nie. Ramaphosa het voor sy vertrek uit Tanzanië, waar hy 'n beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap bygewoon het, gesê hy bly verbind tot die uitwissing van korrupsie. Kommer is vroeër uitgespreek dat Ramaphosa se stryd met die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, sy fokus sal afneem van die ekonomie en werkskepping.

  • Die EFF het bevestig dat een van sy parlementslede 'n skenking ontvang het uit die geld wat ingesamel is vir president Cyril Ramaphosa se presidensiële veldtog. Tebogo Mokwele het teenoor haar party erken dat sy veertig duisend rand van Ramaphosa ontvang het. Die skenking het volgens haar verband gehou met 'n persoonlike probleem. 'n Woordvoerder van die party sê die geld is aan Mokwele gegee uit meegevoel met die afsterwe van twee van haar familielede in April vanjaar. Die EFF sê daar sal nog besluit word watter stappe teen Mokwele ingestel gaan word weens die skenking.

  • En die vreugdevure het vanmiddag hoog gebrand in die Oos-Kaap. Die nuwe Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, is deur 'n groot skare op die Mthatha-lughawe verwelkom. Sy kom oorspronklik van dié gebied. Dit was haar eerste besoek aan haar ouerhuis sedert haar kroning. Haar familie, sowel as burgemeesters van drie distriksmunisipaliteite in die omgewing, het haar saam met ander aanhangers op die lughawe ingewag.

  • Brittanje stuur af op 'n tekort aan brandstof, kos en medisyne indien die land die Europese Unie sonder 'n ooreenkoms verlaat. Dit is luidens 'n regeringsdokument wat die naweek uitgelek het. Senior amptenare in die regering het kort daarna gesê dit is bloot die ergste moontlike scenario wat kan afspeel en dat baie werk in die afgelope drie weke gedoen is om dit te voorkom. Luidens die dokument kan Britte hulle in die geval van geen ooreenkoms regmaak vir opeenhopings by grensposte, openbare protesaksies en wydverspreide ontwrigting. Die Britse kabinet het die dokument glo saamgestel onder die kodenaam "Operation Yellohammer". Dit bied luidens die Britse media 'n blik op die regering se planne om 'n katastrofiese ineenstorting van die land se infrastruktuur te voorkom.

  • Meer as 'n dosyn noodwerkers probeer om twee mense te red wat in 'n grot in Pole vasgekeer is. Die twee was op 'n uitstappie en het die diepste grot in die Tatra-bergreeks ondersoek toe die ingangstonnel oorstroom het. Hulle is sedert gister* in die grot vasgekeer en reddingswerkers kon nog nie daarin slaag om met hulle kontak te maak nie. 'n Woordvoerder van die reddingsoperasie sê een moontlikheid is om die ingang met plofstof oop te skiet, maar selfs dan sal dit lank neem om kontak te maak met die vasgekeerdes. Die reddingspoging word bemoeilik deur oorstromings in die gebied.