Promosie

Dis RSG se verjaarsdagmaand!

Dis RSG se verjaarsdagmaand!

Afrikaanse radio - ‘n mylpaal & prestasie - 80 jaar op lug!

Die wêreld lyk en klink in 2017 beduidend anders as in 1937, toe Afrikaanse radio onstaan het. Tóé was kommunikasiemedia beperk. Die koms van radio in Afrikaans het luisteraars se interaksie met die wêreld verander. Nou is die keuse van media wat inlig, vermaak, kwaad maak, bly maak en bemagtig  sonder grense.

Maar radio…dié staan nog sterk te midde van alle veranderinge, veral Afrikaanse radio met seker dié lojaalste luisteraars. Jy hoef egter nie meer soos in die jare her voor die transistor te sit nie, jy kan rondbeweeg, letterlik die wêreld vol en RSG luister in jou radio, op jou selfoon, op die rekenaar, op apps, op die TV, potgooi en stroming. Jy kan ook RSG twiet, op facebook en instagram sit of aflaai en bêre vir wanneer jy tyd het om behoorlik te luister na van jou gunsteling inhoud.

Maar terug na die nimlike transistor en 1937 waar Afrikaanse radio begin het. Verskeie klein en private uitsaaiers het reeds vanaf Julie 1924 in Kaapstad, Durban en Johannesburg in Engels en Afrikaans uitgesaai. Dié klein stasies het egter geldelik noustrop getrek en in 1927 het ene I.W. Schlesinger almal in die African Broadcasting Company saamgesnoer. Hy was Afrikaans besonder goedgesind en Afrikaanse programme is toe reeds saans uitgesaai. Groot name in die Afrikaanse leefwêreld, onder wie ME Rothman, Anna Neethling-Pohl en WA de Klerk het toenemend oor die radio opgetree en Afrikaanse skrywers soos CM van den Heever, Eitemal en Boerneef het spesiaal vir dié medium begin skryf.

Op 1 Augustus 1936 het die SAUK, wat die African Broadcasting Services oorgeneem het, begin uitsaai met 'n diens in Engels. Net meer as 'n jaar later, op 27 Oktober 1937 is die Afrikaanse Diens van die SAUK bekendgestel. In dié tyd het die oorlogswolke in Europa begin saampak en Suid-Afrika het nie onaangeraak gebly deur die politieke woelinge nie. Die SAUK was gedurende die oorlog, van 1939 tot 1945, uiters versigtig oor wat uitgesaai is en versoekprogramme is ondermeer gestaak omdat die gevaar bestaan het dat gekodeerde boodskappe aan die vyand kon deurglip! Die SAUK was egter ook 'n baanbreker tydens die oorlog, aangesien hy een van die eerste radiodienste was wat met 'n mobiele eenheid nuus van die oorlogsfront uitgesaai het.

Nét ná die oorlog, op 24 Oktober 1945, het die Afrikaanse Diens met 'n versoekprogram "U eie keuse" begin, wat vandag nog uitgesaai word en die oudste program op Suid-Afrikaanse radio is. Op 1 Januarie 1986 word die Afrikaanse en Engelse dienste vervang met twee nuwe dienste Radio Suid-Afrika en Radio South Africa. In dié tyd word die eerste advertensies ook tot talle luisteraars se ontsteltenis, op Afrikaanse radio uitgesaai. Vandag lewer advertensies op RSG 'n beduidende bydrae tot die SAUK se koffers.

Die laaste deel van die 20ste eeu word gekenmerk deur verstommende ontwikkelings op die gebied van die tegnologie en in 1992 verander die stasie se naam na Afrikaans Stereo om die veranderde uitsaaiwyse te weerspieël. Die trefreël "radiosondergrense" kry nou ook vastrapplek en op 27 September om middernag, word dié trefreël die stasie se nuwe naam, kortweg RSG, ná 'n herstrukturering van die SAUK se radiodienste.

Die tegnologie het vir Afrikaanse radio, RSG, verdere grensloosheid gebring. Luisteraars kan enige plek in die wêreld wees en luister…selfs op see, soos baie van ons luisteraars gereeld vanaf groot vragskepe en klein vissersbote uit op die see af laat weet.

Afrikaanse radio bied steeds vir skrywers en musici 'n uitstalvenster vir hulle talent en hulle werk en bevorder so steeds die groeiende ontwikkeling van Afrikaanse kuns, wetenskap en kultuur. Lank, lank gelede het iemand gesê radio is die teater van die verbeelding. RSG verseker 'n ervaring in 3D, in Afrikaans en sonder grense!