Resepte

  • Suurlemoen- en ertjie-risotto
    Suurlemoen- en ertjie-risotto
    Maandag 13 April 2015
    Program: Oggend op RSG
    Porsies: 6
    Gradering uit 10:
     
    (4 stemme)
  • www.heleenmeyer.co.za
    www.facebook.com/HeleenMeyerFood

    Risotto is ’n bekende Italiaanse rysgereg wat dikwels as voorgereg, hoofgereg of stysel op ’n spyskaart verskyn. Arborio-rys met kort korrels verleen die tipiese romerige, sagte tekstuur aan die gereg. Aftreksel word geleidelik by die rys geroer sodat die rys stadig gaar word. Baie geurkombinasies is al gemaak, maar hierdie eenvoudige opsie is heerlik as ligte maaltyd of as stysel met vis of hoender en selfs varkvleis.

  • Bestanddele

    15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
    2 preie, eers in die helfte en dan in skywe gesny
    1 groot knoffelhuisie, gekneus
    500 ml (2 k) arborio-rys
    250 ml (1 k) droë witwyn
    fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
    30 ml (2 e) suurlemoensap
    1,5 liter (6 k) groenteaftreksel
    250 ml (1 k) bevrore ertjies, afgespoel
    2 handevol babaspinasie
    60 ml (¼ k) fyngerasperde pecorino- of parmesaankaas
    45 ml (3 e) suurlemoen- of gewone tiemie
    45 ml (3 e) olyf- of suurlemoengegeurde avokado-olie
    suurlemoensap, sout en peper
    ekstra pecorinokaas om voor te sit
    ’n handvol vars ertjielote ome te garneer

    Metode

    1. Verhit die 15 ml (1 e) olie oor matige hitte in ’n braaipan. Soteer die preie en knoffel tot sag. Roer die rys by en soteer vir ’n paar minute.
    2. Giet die wyn alles op een slag by en roer tot dit geabsorbeer is.
    3. Roer die suurlemoenskil en -sap by die aftreksel en hou dit warm in ’n afsonderlike kastrol oor lae hitte.
    4. Giet ’n soplepel of twee van die warm aftreksel op ’n slag by die rys en roer stadig tot alles geabsorbeer is voor nog vloeistof bygeroer word.
    5. Moenie te veel roer nie, want dan word die ryskorrels maklik pap en klewerig. Herhaal die proses op dieselfde manier met die res van die aftreksel of tot die rys net sag (al dente) is. Dit neem so 25-30 minute.
    6. Roer die ertjies, spinasie, kaas, tiemie en olie liggies deur. Geur na smaak en sit met die ekstra kaas, ertjielote en ’n skeut olie voor.

    Wenk
    Hoender is heerlik in die risotto. Probeer ook brosgebraaide spek of garnale vir ’n hoofmaaltyd. Broccoliblommetjies kan ook as groente teen die einde van die gaarmaaktyd bygeroer word.

Hoeveel sterre gee jy hierdie resep?
* Verpligte velde

Stuur die resep aan n vriend


STUUR