Resepte

  • Bunny Chow met 'n kinkel
    Bunny Chow met 'n kinkel
    Woensdag 7 Februarie 2018
    Program: Oggend op RSG
    Porsies: 4 - 6
    Gradering uit 10:
     
    (22 stemme)
  • Moenie my van hoogverraad aankla en teen ‘n muur sit en skiet nie, maar as jy eers my weergawe van ons tradisionele bunny chow geproe het, sal jy nie maklik weer na ‘n gewone een kyk nie.

    Voorbereiding- en gaarmaaktyd: 30 – 40 minute
    Baktyd: 30 minute

  • Bestanddele

    Vir die kerrievulsel
    2 eetlepels olie
    1 groot ui, fyngekap
    1 x 3 cm stuk gemmer, fyngekap of gerasper
    3 knoffeltoontjies, fyngekap
    1 rooi brandrissie, sade verwyder en in stukkies gekap
    500 g maalvleis
    1 eetlepel matige kerriepoeier
    1 tamatie, geskil en in blokkies gekap
    1 koppie vleisaftreksel
    1 groot aartappel, geskil en in blokkies gesny
    sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
    ‘n handvol vars gekapte koljanderblare
    gerasperde skil van 1 suurlemoen
    1 eetlepel suurlemoensap
    ekstra koljanderblare vir garnering

    Vir die piesangbroodjies
    125 g sagte botter
    1 koppie suiker
    ½ teelepel rissievlokkies
    2 eiers
    2 koppies koekmeelblom
    2 teelepels bakpoeier
    ½ teelepel koeksoda
    ¼ teelepel sout
    4 baie ryp piesangs, fyngedruk

    Metode

    1. Voorverhit die oond tot 180ºC.

    2.Verhit die olie in die pan en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die vleis by en verbruin effens. Voeg die gemmer, knoffel en brandrissie by en braai vir ‘n minuut of twee.  Roer die kerriepoeier by en meng goed voordat jy die tamaties deur die mengsel roer. Kook oor matige hitte totdat ‘n lekker sous begin vorm. Voeg die koppie aftreksel by, bring tot kookpunt en verlaag die hitte. Bedek die pan en laat vir 10 minute lank prut. Voeg die aartappelblokkies by, geur met sout en peper na smaak en prut vir ongeveer 15 – 20 minute of totdat die aartappels sag en gaar is en die meeste van die vloeistof weggekook het. Roer die suurlemoenskil en –sap by en roer die koljanderblare deur.

    3. Bak die piesangbroodjies terwyl jou kerrie stadig prut: Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Klits die rissievlokkies by en dan die eiers een vir een. Sif die koekmeelblom, bakpoeier, koeksoda en sout saam en voeg by die mengsel saam met die piesangs. Meng goed en skep in 6 gesmeerde mini-broodpannetjies. Bak vir ongeveer 30 minute in ‘n voorverhitte oond van 180⁰C. Laat 10 minute in die pannetjies staan voordat jy dit op ‘n draadrak uitkeer om heeltemal af te koel.

    4. Sny die boonste deel van die piesangbroodjies soos ‘n deksel af en hol die onderste deel effens uit. Skep die kerrie binne-in en bedien met ‘n lekker blatjang of atjar en sambal.

    Wenk: Die soet van die piesangbrood bring die heerlike speserysmake van die kerrie na vore. Maar as jy voel vir ‘n meer konvensionele bunny chow, maar nie kans sien vir ‘n halwe brood per porsie nie, kan jy een witbrood in die lengte in die helfte deursny, albei helftes uithol en die kerriemaalvleis daarin skep. Verdeel in porsies.

Hoeveel sterre gee jy hierdie resep?
* Verpligte velde

Stuur die resep aan n vriend


STUUR