{"id":167399,"date":"2026-08-23T10:00:31","date_gmt":"2026-08-23T08:00:31","guid":{"rendered":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/?post_type=news-articles&#038;p=167399"},"modified":"2026-08-23T09:43:27","modified_gmt":"2026-08-23T07:43:27","slug":"2026-08-23t1000","status":"publish","type":"news-articles","link":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/rsg-nuusbulletins\/2026-08-23t1000\/","title":{"rendered":"2026-08-23T10:00"},"content":{"rendered":"<p>Vyf amptenare van die Emfuleni-munisipaliteit is deur die politieke moorde taakspan in Gauteng in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, diefstal en peuter met noodsaaklike infrastruktuur. Die verdagtes, verbonde aan die munisipaliteit se Inkomste- en Elektrisiteits-departemente, het na bewering betalings in hul bankrekeninge ontvang om elektrisiteitstoevoer wat afgesny is, weer aan te sluit. Die nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe s\u00ea die onwettige heraansluitings het gelei tot finansi\u00eble verliese vir die munisipaliteit. Mathe s\u00ea die vyf sal na verwagting *m\u00f4re in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.<\/p>\n<p>Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, sal later vanoggend sy party se manifes vir die plaaslike regeringsverkiesing van by Riverside Park in Diepsloot, noord van Johannesburg, bekendstel. Die party s\u00ea die manifes is gegrond op die ANC se visie om plaaslike regering te versterk en die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter.<\/p>\n<p>ActionSA in Mpumalanga het die name van sy burgemeesterskandidate vir verskeie munisipaliteite bekendgemaak. Die party het nege kandidate aangewys. Dit sluit in Marry Phadi, die provinsiale veldtogbestuurder in die Nkangala-distriksmunisipaliteit. Ander kandidate is Martin Rankapole vir die Dokter J. S. Moroka-munisipaliteit, Daniel Maseko vir Emakhezeni, Sonia Themba vir Thembisile Hani, Terror Mwelase vir Emalahleni, Nthabiseng Shabangu vir Victor Khanye en Cyprian Matjie vir Steve Tshwete. Die aankondiging is gister* op &#8216;n mediakonferensie in Mbombela gemaak.<\/p>\n<p>Die departement van gemeenskapsveiligheid, veiligheid en skakeling in Mpumalanga het met &#8216;n ondersoek begin nadat verkeerslede na bewering &#8216;n vragmotorbestuurder aangerand het. Dit kom nadat &#8216;n video van die beweerde aanranding op die N4 naby Komatipoort op sosiale media versprei is. &#8216;n Woordvoerder van die departement, Moeti Mmusi, het die voorval veroordeel. Mmusi s\u00ea al die feite sal vasgestel word en die departement sal beslis die nodige stappe doen.<\/p>\n<p>Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het binne een week meer as vyfhonderd bedryfslisensies aan minibus-taxi- en skolier-vervoer-operateurs uitgereik. Dit bring die getal bedryfslisensies wat sedert November verlede jaar deur die departement uitgereik is op meer as drieduisend te staan. Die Departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, s\u00ea dit is deel van pogings om uitstaande aansoeke af te handel en te verseker dat openbare vervoeroperateurs wettig en veilig kan optree.<\/p>\n<p>Die Duitse minister van buitelandse sake, Johann Wadephul, het sy medelye met die Oekra\u00efense president, Wolodimir Zelenski, betuig n\u00e1 &#8216;n Russiese hommeltuigaanval op &#8216;n winkelsentrum in Zelenski se tuisdorp, Kriwi Rih. Oekra\u00efense owerhede s\u00ea minstens 16 mense is dood en meer as 130 beseer. Zelenski het die aanval as ernstig bestempel en ges\u00ea dat Russiese magte &#8216;n tweede keer toegeslaan het terwyl reddingswerkers op die toneel was. Wadephul het Zelenski in die Oekra\u00efense hoofstad, Ki\u00ebf, ontmoet. Hy het Rusland daarvan beskuldig dat hulle steeds burgerlikes teiken, en s\u00ea die aanval was ook daarop gemik om Zelenski persoonlik aan te val.<\/p>\n","protected":false},"comment_status":"open","ping_status":"closed","template":"","class_list":["post-167399","news-articles","type-news-articles","status-publish","hentry"],"acf":{"nuus_uur":"1000","nuus_datum":"20260823"},"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/news-articles\/167399","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/news-articles"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/types\/news-articles"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=167399"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=167399"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}