{"id":169805,"date":"2026-09-21T15:55:00","date_gmt":"2026-09-21T13:55:00","guid":{"rendered":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/?post_type=rsg-nou&#038;p=169805"},"modified":"2026-09-21T16:41:47","modified_gmt":"2026-09-21T14:41:47","slug":"atkv-vereer-willie-koorts-vir-n-leeftyd-se-sterre-en-stories","status":"publish","type":"rsg-nou","link":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/rsg-nou\/atkv-vereer-willie-koorts-vir-n-leeftyd-se-sterre-en-stories\/","title":{"rendered":"ATKV vereer Willie Koorts vir \u2019n leeftyd se sterre en stories"},"content":{"rendered":"\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Vir byna drie dekades het Willie Koorts mense op busse, oor Karoodorpe en uiteindelik tot onder die sterrehemel van Sutherland geneem. Hy het hulle vertel van spoorlyne, teleskope, ou motors, plase, geologie en die geskiedenis van die Karoo. Maar meer as dit het hy hulle geleer om op te kyk, skryf die ATKV. <\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><a href=\"https:\/\/atkv.org.za\/nuus\/posts\/atkv-vereer-willie-koorts-vir-n-leeftyd-se-sterre-en-stories\">https:\/\/atkv.org.za\/nuus\/posts\/atkv-vereer-willie-koorts-vir-n-leeftyd-se-sterre-en-stories<\/a><\/p>\n\n\n<div class=\"wp-block-image\">\n<figure class=\"aligncenter size-large\"><img fetchpriority=\"high\" decoding=\"async\" width=\"1024\" height=\"440\" src=\"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy-1024x440.jpeg\" alt=\"\" class=\"wp-image-169807\" srcset=\"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy-1024x440.jpeg 1024w, https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy-300x129.jpeg 300w, https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy-768x330.jpeg 768w, https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy-150x65.jpeg 150w, https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy-1536x660.jpeg 1536w, https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy.jpeg 1591w\" sizes=\"(max-width: 1024px) 100vw, 1024px\" \/><figcaption class=\"wp-element-caption\">Willie Koorts en Son\u00e9l Brits (Foto: ATKV)<\/figcaption><\/figure>\n<\/div>\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Hierdie besondere nalatenskap is by die SMUL-restaurant op Diemersfontein buite Wellington gevier toe Willie met \u2019n ATKV-Oorkonde vereer is vir sy jarelange bydrae tot die bevordering van sterrekunde, sy liefde vir Afrikaans en sy betrokkenheid by die ATKV.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die oorkonde is deur Son\u00e9l Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, aan hom oorhandig tydens \u2019n funksie waar vriende, mede-ATKV-lede, bewonderaars en mense wat oor baie jare saam met hom gereis het, hulde aan hom gebring het.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Willie se belangstelling in wat bo \u00e9n rondom hom gebeur, loop soos \u2019n goue draad deur sy lewe. \u201cEk wou my lewe lank weet wat om my aangaan,\u201d het hy sy eenvoudige filosofie opgesom.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Di\u00e9 nuuskierigheid sou hom uiteindelik diep in die Suid-Afrikaanse sterrekundew\u00eareld neem. Hy was onder meer by sterrewagwerk en teleskoopinstrumentasie betrokke en het \u2019n rol gespeel by die eerste vier groot teleskope en later ook SALT (<em>Southern African Large Telescope)<\/em>.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Vir RSG-luisteraars is sy stem al jare lank sinoniem met die hemelruim. Sedert 2009 is hy as ankeraanbieder aan die program&nbsp;<em>Sterre en Planete<\/em>&nbsp;verbonde, waar hy ingewikkelde astronomiese verskynsels toeganklik en in Afrikaans aan luisteraars verduidelik.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">\u201cDit is daarom vir ons by die ATKV \u2019n besondere voorreg om eer te gee aan Willie Koorts \u2013 iemand wat ons telkens met nuwe o\u00eb na die hemel laat kyk,\u201d het Almero Oosthuizen, ATKV-streeksbestuurder, ges\u00ea.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Willie se verbintenis met die ATKV strek veel verder terug. Hy was \u2019n stigterslid van die ATKV-tak Wellington wat in 1998 tot stand gekom het, en het vir dekades die jaarlikse bustoer na Sutherland help vorm.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-tak Wellington, vertel dat daar oor die jare 28 bustoere aangebied is.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Elke Augustus het \u2019n groep per bus na Sutherland gereis. Die hotel en gastehuise is vooraf bespreek, daar is by Matjiesfontein gestop en die sterrewag is besoek \u2013 soms selfs met sneeu as agtergrond. Maar die reis was nooit net \u2019n toerprogram nie. Dit het \u2019n gemeenskap geword.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op pad terug is gedigte wat gedurende die naweek geskryf is op die bus voorgelees en pryse is toegeken. Met die verloop van die jare het die verse, stories en foto\u2019s begin ophoop.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">\u201cOns het altyd gewonder wat met die gedigte en prosa gebeur,\u201d het Willie ges\u00ea. \u201cDit is wonderlik dat dit nou in boekvorm bestaan.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Juis daarom was die funksie ook die ideale geleentheid vir die bekendstelling van&nbsp;<em>Afrikaanse Voetspore na Sutherland<\/em>, \u2019n koffietafelboek waarin di\u00e9 herinneringe uiteindelik \u2019n permanente tuiste gekry het.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Willie was die eerste ontvanger van \u2019n eksemplaar en het ook boeke tydens die geleentheid geteken.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Schweidler het verduidelik dat die idee ontstaan het toe sy besef hoeveel materiaal oor die jare versamel is.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">\u201cDaar was \u2019n digkompetisie met \u2019n wenner en die gedigte het begin opstapel. Ek het gedink ons moet dit in boekvorm uitgee. Ons het dit gekombineer met van die mooiste foto\u2019s van Sutherland.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die resultaat is \u2019n boek vol verhale uit hart en siel: oor die koue, die busreise, die rooi bus, dorpe, spoke, spoorlyne, ou motors en natuurlik die onvergeetlike oomblikke wanneer teleskope mense vir die eerste keer diep die heelal laat inkyk het.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Vir Son\u00e9l illustreer die projek presies wat die ATKV se takke op grondvlak vermag. \u201cDit is altyd \u2019n riem onder die hart om te sien hoe die platform van die ATKV in aksie bly \u2013 waar mense met gedeelde belangstellings bymekaar kom en hul talente en kennis met oorgawe en toewyding deel,\u201d het sy ges\u00ea.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die Bosman Adama-koor uit die omgewing het verdere warmte aan die aand verleen met musiekitems soos \u201cAan die einde van die re\u00ebnboog\u201d, \u201cBlou\u201d en ander se\u00ebngebede.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Willie het die huldeblyk met kenmerkende nederigheid ontvang.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">\u201cBaie, baie dankie. Dit is \u2019n wonderlike gebaar en ek waardeer dit ongelooflik.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die Sutherland-toere het uiteindelik om logistieke redes tot \u2019n einde gekom, maar soos die nuwe boek wys, het die stories nie verdwyn nie. En Willie herinner ons elke week om ons koppe op te lig en met verwondering na die hemelruim te kyk.<\/p>\n","protected":false},"comment_status":"open","ping_status":"closed","template":"","meta":{"_acf_changed":false,"title":"ATKV vereer Willie Koorts vir \u2019n leeftyd se sterre en stories","cover-image":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy.jpeg","short-description":"ATKV vereer Willie Koorts vir \u2019n leeftyd se sterre en stories","image-gallery":["https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/oorkonde-10-copy.jpeg"],"featured":"false","comment-feature":"false","main-featured":"false"},"rsg-nou-kategorie":[],"class_list":["post-169805","rsg-nou","type-rsg-nou","status-publish","hentry"],"acf":[],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou\/169805","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/types\/rsg-nou"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=169805"}],"version-history":[{"count":1,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou\/169805\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":169808,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou\/169805\/revisions\/169808"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=169805"}],"wp:term":[{"taxonomy":"rsg-nou-kategorie","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou-kategorie?post=169805"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}