{"id":170221,"date":"2026-09-28T12:59:09","date_gmt":"2026-09-28T10:59:09","guid":{"rendered":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/?post_type=rsg-nou&#038;p=170221"},"modified":"2026-09-28T13:10:52","modified_gmt":"2026-09-28T11:10:52","slug":"ons-blinknuwe-radiodramaseisoen-beloof-14-topklas-afrikaanse-stories","status":"publish","type":"rsg-nou","link":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/rsg-nou\/ons-blinknuwe-radiodramaseisoen-beloof-14-topklas-afrikaanse-stories\/","title":{"rendered":"Ons blinknuwe radiodramaseisoen beloof 14 topklas Afrikaanse stories"},"content":{"rendered":"\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Met skrywers wat hul storie ken, bied RSG se tweede radiodramaseisoen van 2026 \u2019n uiteenlopende versameling radioteaters waarin luisteraars ander mense en ook hulself sal herken.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die nuwe seisoen begin op Donderdag 1 Oktober en word daarna word \u2018n radiodrama &nbsp;elke Donderdagaand om 20:00 op RSG uitgesaai. Luisteraars kan ook uitsien na \u2019n spesiale Kersdrama op Kersdag.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">RSG skop <strong>Donderdag 1 Oktober<\/strong> sy splinternuwe radiodramaseisoen af &#8211; \u2019n kragtige versameling van <strong>14 uiteenlopende dramas<\/strong> wat opspraakwekkende temas, alledaagse uitdagings \u00e9n tong\u2011in\u2011die\u2011kies stories aanpak. Die seisoen bied alles van familiegeheime, verlies, kinderontvoering, identiteit en geestesgesondheid, tot humor, nostalgie, futuristiese spanning en Kersfees\u2011betowering. <\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die reeks bring van die <strong>mees bekroonde skrywers en regisseurs<\/strong> in Afrikaanse radio saam, met bekende name soos <strong>Herschelle Benjamin, Henri\u00ebtta Gryffenberg, Philip Rademeyer, Eben Cruywagen, Christien Neser, Sophia van Taak, Marius de Bruyn, Madeleine Venter, Alm\u00e9 Hugo, Maria Vos<\/strong> en <strong>Johan Rademan<\/strong>.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op die rolverdeling verskyn \u2018n hele rits bekroonde gunstelingakteurs sowel as kraak<strong>vars nuwe talent<\/strong> uit die jonger generasie &#8211; \u2019n seisoen wat die volle spektrum van Afrikaanse stemme vier.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die radioteater seisoen open met, <em>Joshlin<\/em> \u2013 meer as \u2019n naam, geskryf deur Herschelle Benjamin en deur Henri\u00ebtta Gryffenberg vir die radio verwerk. \u2019n Ma word tydens \u2019n vreemde hofsaak in die hof van openbare mening met die verdwyning van haar elfjarige seun gekonfronteer. Die verhaal ondersoek kinderuitbuiting, mensehandel en die wyse waarop \u2019n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare oordeel oorgeneem kan word. Dit word op <strong>1 Oktober<\/strong> uitgesaai. Lees meer oor di\u00e9 drama<a href=\"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/rsg-nou\/1e-drama-van-ons-nuwe-seisoen-joshlin-smith-radiodrama-konfronteer-kinderverdwyning-kollektiewe-gewete-en-verantwoordelikheid-op-rsg\/\" data-type=\"link\" data-id=\"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/rsg-nou\/1e-drama-van-ons-nuwe-seisoen-joshlin-smith-radiodrama-konfronteer-kinderverdwyning-kollektiewe-gewete-en-verantwoordelikheid-op-rsg\/\"> hier.<\/a><\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op <strong>8 Oktober<\/strong> volg Morn\u00e9 Malan se <em>Tuimelduif.<\/em> \u2019n Tweelingbroer en -suster van Mosselbaai word n\u00e1 jare herenig om hul ma se sewentigste verjaardag te vier. Progressiewe Alzheimer se siekte, en onverwerkte verlies dwing die Van Rensburg-gesin om moeilike waarhede in die o\u00eb te kyk. Dit is \u2019n verhaal oor wat dit beteken om mekaar werklik nodig te h\u00ea.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Niel Steenkamp se <em>Pieter se pa<\/em> bring op <strong>15 Oktober<\/strong> \u2019n ligter blik op die verlede. Herman is verheug dat sy dogter met Pieter wil trou, maar wanneer sy vrou foto\u2019s van meisies uit Herman se jong dae ontdek, moet hy vinnig verduidelik waarom elkeen van di\u00e9 romantiese afsprake op \u2019n fiasko uitgeloop het. Dit is \u2019n humoristiese verhaal oor die dinge waaroor \u2019n mens jare later uiteindelik kan lag.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op <strong>22 en 29 Oktober<\/strong> word die tweedelige <em>Stinkhout<\/em> uitgesaai. Philip Rademeyer se verhaal is deur Eben Cruywagen vir die radio verwerk. N\u00e1 sy broer se skielike dood keer Louw terug na die kleinhoewe waar hy grootgeword het en word hy met sy pa, Gert, herenig. Ou wonde word oopgekrap, terwyl \u2019n enorme witstinkhoutboom as stille getuie staan van alles wat oor dekades op di\u00e9 familiegrond gebeur het. Dit is \u2019n aangrypende verhaal oor \u2019n pa en seun wat mekaar probeer vind terwyl hulle rekenskap van die verlede gee. Cruywagen is vroe\u00ebr vanjaar oorlede, en Stinkhout was die laaste teks wat hy vir RSG verwerk het. Die uitsending daarvan is daarom ook \u2019n besondere viering van sy werk en sy &nbsp;kosbare nalatenskap&nbsp; aan die Afrikaanse radio.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Marius de Bruyn se <em>Seeskulp<\/em> volg op <strong>5 November<\/strong>. Eleanor, \u2019n letterkundedosent wat met \u2019n terminale breingewas gediagnoseer is, ontmoet Jonathan, \u2019n eksentrieke jong student wat \u2019n boek skryf. Namate \u2019n komplekse vriendskap tussen hulle ontwikkel, rig Eleanor \u2019n vreemde versoek aan hom \u2013 een wat albei se lewens vir altyd kan verander.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">In <em>Die oorlogklavier<\/em> deur Christien Neser word luisteraars op <strong>12 November<\/strong> op \u2019n reis deur tyd geneem. \u2019n Klavier wat al meer as \u2019n eeu in die Swanepoel-gesin se huis staan, word die sleutel tot \u2019n verhaal uit die Anglo-Boereoorlog. Die skoolgaande James ontdek \u2019n geskiedenis van sterk vroue, slim planne, oorlewing en liefde oor kontinente heen\u2026 En uiteindelik ook die oorsprong van sy eie naam en rooi hare.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Sophia van Taak se <em>Halfpad daar<\/em> word op <strong>19 November<\/strong> uitgesaai. Retha is \u2019n vrou in haar veertigs wie se senuwees begin uitrafel. Werksdruk en ander mense se verwagtinge laat haar aan haar lewenskeuses twyfel. Dan is daar ook die eise wat sy aan haarself stel.&nbsp; Wanneer sy haarself in \u2019n emosionele put bevind, moet sy \u2019n manier vind om weer uit te klim.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op <strong>26 November<\/strong> volg Madeleine Venter se <em>Kraaines<\/em>. Terwyl Ronel haar oorlede pa se besittings oppak, ontdek sy \u2019n brief wat haar w\u00eareld laat kantel. Haar soeke na antwoorde trek haar al dieper in \u2019n kraaines van familiegeheime en leuens in.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><em>Die oudit<\/em> deur Alm\u00e9 Hugo word op <strong>3 Desember<\/strong> uitgesaai. Mieke begin haar eerste werk as \u2019n intern en probeer uit haar ouerhuis ontsnap, al bestaan haar kantoor hoofsaaklik op haar skootrekenaarskerm. Wanneer \u2019n joernalis antwoorde oor \u2019n finansi\u00eble bedrogsaak begin soek, lek die werksw\u00eareld uit Mieke se rekenaar tot in haar woonstel en dreig dit om haar in te sluk.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op <strong>10 Desember<\/strong> pak luisteraars <em>Die laaste kilometer<\/em> saam met Maria Vos aan. Leon, \u2019n onuitstaanbare sakeman, hardloop halfmarathons in al nege provinsies ten bate van liefdadigheid. Terwyl sy heldedade noukeurig vir sosiale media gedokumenteer word, lyk die werklikheid agter die skerms egter heel anders. In die Noord-Kaapse hitte begin sy sorgvuldig opgeboude beeld en sy skynbaar perfekte lewe uitrafel.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">RSG maak op <strong>17 Desember<\/strong> \u2019n besondere argiefopname van Adam Small se <em>Kanna hy k\u00f4 hystoe<\/em> weer hoorbaar. Small sou vanjaar 90 jaar oud geword het. Die drama, wat deur Johan Rademan vir die radio verwerk is, vertel die bekende verhaal van Kanna, Makiet se grootmaakkind, wat die geleentheid kry om deur opvoeding aan die onderdrukking en armoede van Distrik Ses te ontsnap. Vir die mense wat agterbly, word sy moontlike terugkeer \u2019n simbool van hoop.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Op <strong>24 Desember<\/strong> volg nog \u2019n argiefhoogtepunt: <em>Die laaste woord<\/em> deur Lee Doubell, wat vroe\u00ebr vanjaar oorlede is. RSG bring met di\u00e9 uitsending hulde aan \u2019n skrywer wat met \u2019n besonder vision\u00eare blik na die toekoms gekyk het. Die drama speel af in \u2019n futuristiese, apokaliptiese w\u00eareld waarin Masjien en Vlees teen mekaar te staan kom. Met kunsmatige intelligensie wat vandag al hoe meer deel van die alledaagse lewe word, is die vrae wat die verhaal stel meer tersaaklik as ooit.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Luisteraars kan op <strong>Kersdag<\/strong> uitsien na die spesiale <em>Kersdrama<\/em>, Die grootste hiervan, deur Hendie Grobbelaar. Issie en Dries, \u2019n bejaarde egpaar wat tydelik in \u2019n woonstel woon, ontvang \u2019n virtuele assistent genaamd VERA as Kersgeskenk van hul uitvinder-dogter. Wanneer \u2019n verskriklike ramp op Oukersaand plaasvind, word vier mense se geloof en hoop tot die uiterste beproef terwyl VERA skynbaar buite haar programmering begin optree. Sal hulp betyds opdaag?<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Die seisoen sluit op <strong>31 Desember<\/strong> op \u2019n humoristiese noot af met Eugene Pienaar se <em>Drie knape en \u2019n oujongnooi<\/em>. Katram van die planeet Uririto, word per ongeluk na die aarde verplaas en beland in die agterplaas van die befoeterde Sarie. Kommunikasieprobleme, twee buitenaardse geregsdienaars en \u2019n onverwagse herontmoeting met \u2019n ou skoolkys lei tot \u2019n reeks skreeusnaakse situasies.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">RSG se radioteater is waar Afrikaanse stories, legendes van radio en blinknuwe talent steeds koning kraai. Nooi almal wat jy ken om saam te luister, want niks bring mense bymekaar soos \u2019n goeie storie nie.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\"><\/p>\n","protected":false},"comment_status":"open","ping_status":"closed","template":"","meta":{"_acf_changed":false,"title":"Ons blinknuwe radiodramaseisoen beloof 14 stukke topklas Afrikaanse stories","cover-image":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/Radiodrama1-scaled.jpg","short-description":"Ons blinknuwe radiodramaseisoen beloof 14 stukke topklas Afrikaanse stories","image-gallery":["https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-content\/uploads\/2026\/09\/Radiodrama1-scaled.jpg"],"featured":"false","comment-feature":"false","main-featured":"false"},"rsg-nou-kategorie":[414],"class_list":["post-170221","rsg-nou","type-rsg-nou","status-publish","hentry","rsg-nou-kategorie-radioteater-programme"],"acf":[],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou\/170221","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/types\/rsg-nou"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=170221"}],"version-history":[{"count":2,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou\/170221\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":170227,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou\/170221\/revisions\/170227"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=170221"}],"wp:term":[{"taxonomy":"rsg-nou-kategorie","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.rsg.co.za\/rsg-fm\/wp-json\/wp\/v2\/rsg-nou-kategorie?post=170221"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}