Sophia is ’n tydskrifjoernalis en TV-aanbieder met ’n groot verknogtheid aan Afrikaans. Dit was RSG se gewilde radiodrama-skryfkompetisie wat haar in 2018 vir die eerste keer na die SAUK se ateljee in Seepunt gebring het. Sy vertel: “Tydens die opname van my drama Springgety het ek so stil soos ’n muis gesit en toekyk hoe die akteurs deur hulle mikrofone lewe blaas in die geskrewe woord. Dit was soos toordery om te hoor hoe karakters vlees word, hoe dialoog betekenis kry en ’n storie op galop gaan!”
Die medium het haar daardie middag in die ateljee aangegryp, en sedertdien wou dié ding van die draadloos haar maar net nie los nie. Om in 2022 by die RSG-span aan te sluit, is dus ’n groot lekkerte.
“As aanbieder van die program Vers en Klank neem ek die fakkel oor by twee meesters voor my – Frieda van den Heever en Margot Luyt. Dis vroue vir wie ek net die grootste agting het, en ek voel geëerd om die weë wat hulle vir die Afrikaans digkuns gebaan het, se vertakkings in nuwe koerse te karteer.”
Sophia is ’n getoë Bolander wat in die Paarl grootgeword het. Sy woon sedert 2003 in Vredehoek, teen die hang van Tafelberg. Die nabyheid van voetpaaie deur die fynbos, en die hoogte bo seespieël wat daarmee gepaard gaan, is haar behoud.