Moonfall

Moonfall

Eers was daar Moonraker, maar dit was James Bond. Hy sou glad nie dié probleem kon oplos nie. Die maan gly uit sy wentelbaan en dit veroorsaak, veral wat die see betref, chaos. Roland Emmerich, bekend vir eposse soos Pearl Harbour en Independence Day, het hier die grootste rampfilm ooit gemaak. Net om te sien hoe die oseaan Amerikaanse stede oorspoel en watertrôe die lug inskiet, maak ‘n toegangskaartjie die moeite werd in IMAX, maar slégs dit.

Die storie is só vergesog, vermetel en domastrant onrealisties, dat jy deurgaans giggel. Almal sterf behalwe die Amerikaanse president, die regering en ons helde. Hoe hulle die stukke maan, wat die ganske planeet tref, vryspring? Wel, jy moet dit sien om te glo. En lag.

Emmerich se film mag wetenskapfiksie wees wat mens met ‘n knippie sout neem, maar met MOONFALL moet jy sewe sakke sout opeet om dit te glo. Vergesog en onmoontlik begin nie om dit te beskryf nie, en mens wil jou logika afskakel, maar nie hier nie. MOONFALL kry 3/10, suiwer vir die spesiale effekte.