The Batman

The Batman

Almal sien maande lank al uit na THE BATMAN met Robert Pattinson. Die fliek is  bykna drie ure lank, en stel hoë eise aan jou uithouvermoë en konsentrasie. Maar hierdie slag is dit ’n Batman vir die soveelste keer in ‘n ander kragtige gedaante met ‘n akteur wat sowaar kan toneelspeel en diep in sy donker siel kan kyk sonder om in sy mou te lag. Hierdie is seker die donkerste, mees angswekkende en beklemmende Batman nog. Hy kom te staan teen die waansinnige Riddler (Paul Dano) en saam met Selina Kyle (Zoë Kravitz) moet hy die stad van ‘n katastrofe red.

Die rolprent is soos ‘n opera geregisseer en die musiek is soos ‘n simfonie, dikwels met godsdienstige ondertone. Daar is nie soveel nodelose, leë aksie soos gewoonlik nie. Elke aksietoneel het ‘n rede en dra by tot die skokkende slottonele. Maar die vertelstyl, gedurig in nabyskote, en die hele rolprent feitlik in swart (en dit sluit die kostuums in) sal jou vir lank bybly. Tegnies ‘n meesterstuk en wat my betref een van die beste Batmans nog. THE BATMAN deur Matt Reeves is noodsaaklikheid in jou Batman-opvoeding.