A Murder at the End of the World (Reeks)

A Murder at the End of the World (Reeks)

Sommer van die begin af voel jy dit so aan jou liddoring: A MURDER AT THE END OF THE WORLD op Disney+ is nie soos Agatha Christie nie. Om die waarheid te sê, dis so anders as ‘n melktert van ‘n bord mopaniewurms, want die karakters lyk asof hulle van ander planete af kom. Die regisseurs het spesifieke mooi, maar rare mense gekies wat so half deur jou verbeelding sweef.

Eerstens speel die reeks nie op die gewone plek af nie. ‘n Groep eksentrieke mense vol geheime kom in Ysland in ‘n vreemde lodge bymekaar, wat byna soos ‘n vlieënde piering lyk, en niemand is wie hulle voorgee om te wees nie. Dan daag die man met die sens op, of dalk is dit ‘n vrou, en lê die lem deeglik in. Een na die ander kap hulle om. Wie het dit gedoen?

Onthou net, dis nie ‘n snelbewegende hoepla-hopla van moord na moord en (ASEM IN) wie het dit gedoen nie? Dis meer kompleks as dit, en is gerig op ‘n uitgesoekte en geduldige smaak, want dis stadig.