A Quiet Place Part II

A Quiet Place Part II

A QUIET PLACE PART II is soos om vir die tweede keer in ‘n pretpark se spookhuis in te loop. Jy antisipeer die skokke, en weet wat kom. Dit gaan oor monsters wat hulle prooi identifiseer deur middel van die geringste geluidjie, daarom speel driekwart van die film in doodse stilte af soos dieselfde slagoffers weer voor dieselfde grieselgeeste vlug. ‘n Mens sien egter deur die tegnieke. Dis soos wanneer jy by jou gunsteling restaurant eet, en jou gunsteling dis kom uit die mikrogolfoond. Jy proe sommer die koue hart en sien deur die opwarmingsproses. Moet dus nie dieselfde skokke as in nommer 1 verwag nie.

A QUIET PLACE PART II speel met stilte. Jy kan jou hare hoor groei so stil is dit. Te veel voete loop suutjies oor ongelyke grond. Te veel oomblikke word vermors op die kunsmatige skep van spanning wanneer jy weet iets gaan raas. Maar die kinders, veral Noah Jupe, lewer uitsonderlike spel. Om 2 uur lank bang te speel, is moeilik. Maar dis daardie donker musiek en die gruwels wat jy verwag, wat skok. Dus… jou senuwees is jou grootste vyand. A QUIET PLACE PART II moet in ‘n teater gesien word om die stilte te waardeer, maar dis nie so grieselrig of verrassend soos sy voorganger nie. Lig teleurstellend.