A VERY LONG ENGAGEMENT

Ek moet sê ek is verbaas. Die verspreiders maak nie veel bohaai van Valentynsdag vanjaar nie, so asof dit nie saakmaak nie. Daar is net een romantiese fliek wat vandag begin en dit is A VERY LONG ENGAGEMENT. Nou weet ek nie hoeveel van julle Amélie gesien het nie. Dit is, terloops, aangewys as die gewildste kunsfliek NOG in Suid-Afrika. Jean-Pierre Jeunet was die regisseur. Nou hoor almal daardie Franse naam en dink: o hemeltjie nog, NOG ‘n pretensieuse kunsfliek! A VERY LONG ENGAGEMENT is nié pretensieus nie, maar wél ‘n kunsfliek. Dit speel af gedurende die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Jong meisie en haar kêrel raak verloof, maar dan sterf hy gedurende ‘n kwaai veldslag. Is die jong man werklik dood? Mathilde weier om dit te aanvaar en sy gaan soek hom van slagveld na slagveld. EPOS is met groot, swart letters oor die fliek geskryf, en nee, ek praat nie van daardie briewe wat jy elke dag op jou rekenaar stuur nie. Dis goeie, outydse melodrama vol swiepende kamerawerk, bloedige veldslae, uitgestrekte slagvelde en beeldskone mense wat intens ly. Jy kort romanse in jou lewe, of jy vereenselwig liefde met verlies en swaarkry? Dan is A VERY LONG ENGAGEMENT vir jou. Dis oorweldigend romanties en epies, nes DR. ZHIVAGO, GONE WITH THE WIND, AN AFFAIR TO REMEMBER en BRIEF ENCOUNTER. Uitgeknip as jy romanse wil sien, maar onthou, dit is gewelddadig, daar is sekstonele en kan mense aanstoot gee. Niemand onder 16.