AD VITAM (Reeks)

AD VITAM (Reeks)

Ek moet waarsku:  AD VITAM gaan oor selfdood. Dus word veral sensitiewe mense gewaarsku. Dit mag ontstel. Die reeks speel in die toekoms af. Daar is ‘n aksie genaamd “regeneration” wat mense ondergaan wat vir ewig wil lewe, deur in ‘n bad te gaan lê en weer nuwe energie te kry. Die episode open hoeka met ‘n tante wat haar 169ste verjaarsdag vier. Stel jou voor om daardie kersies uit te blaas!

Maar, en dis wat die reeks veelbesproke en ontstellend maak, daar bestaan ook ‘n groep, hoofsaaklik jongmense, wat aan ‘n selfdoodgroep behoort, en wat self kies wanneer hulle tyd aangebreek het. Die episode begin hoeka met sewe wat hul eie lewe neem. Die oues en jonges baklei dan teen mekaar oor die keuse tussen lewe en dood.

Soos gewoonlik in sulke toekomsreekse, is die stelinkleding en kinematografie uitsonderlik en selfs bedwelmend. Jy raak verlore in hierdie wêreld. Maar jy moet ook jou brein in eerste rat hou om te onderskei tussen die karakters, en veral die stryd tussen die dood en ‘n gekose lewe. Wees versigtig, ek resenseer dit omdat dit heeltemal anders is as die gewone reeks – dit kom uit Frankryk, maar is hoofsaaklik oorgeklank, maar ook omdat die karakters meer individualisties en sterker is as waaraan jy gewoond is. Dit voel of jy iewers tussen die dood en lewe huiwer in die reeks.