ADOPT A DADDY

ADOPT A DADDY

Hulle sê mos ‘n rolprent moet die vier-keer-lagtoets slaag voordat dit werklik ‘n komedie genoem kan word. Die Franse rolprent, ADOPT A DADDY, slaag loshande. Jy lag dwarsdeur. Hier en daar het ‘n mens daardie lekker uit die maag lag ontploffinkie wat jou selfs van jou gesaniteerde springmielies laat vergeet.

‘n Lekker loslyf man, die baie sexy en oortuigende Franck Gastambide, neem ‘n straatkind in. Dis een van die onwettige immigrasiekinders wat Frankryk so teister, en hy weet wat sy kaalkop getref het, soek al wat straatkind is skuiling by hom. Gelukkig is sy suster ‘n prokureur, en saam probeer hulle ‘n verandering in die immigrasiewette teweegbring.

Wat dit so komies maak, is omdat hierdie loslyf-lat nie eintlik van kinders hou nie, en nie weet wat om met hulle te maak nie. Maar in daardie swakheid lê sy sterkpunt ook. Daar is bietjie slapstick, maar met Franse sofistikasie. Al klink die titel koddig, sal ADOPT A DADDY jou laat skater. Lekkerlag met ‘n traan en ‘n besef van die erns van die immigrasie-situasie.