AFTER THE SUNSET

Elke resensie oor AFTER THE SUNSET wat ek onder oë gehad het, praat van SELMA HAYEK se laaggesnyde rokke. “Dit laat reg geskied aan haar aansienlike talente!” juig ‘n resensent. En ‘n ander: “Kon die snit nie bietjie laer gewees het nie?” ‘n Vroulike resensent het weer uitgeroep: “Pierce Brosnan en Woody Harrelson het die mooiste borskaste sedert Michelangelo die DAWID-beeld uit marmer geskep het!” Nou weet jy wat om te verwag. AFTER THE SUNSET gaan oor mooi mense wat lyf wys, diefstal pleeg en hoop om daarmee weg te kom.

Dis gemorskosvermaak – iets wat jy oor ‘n wegneemtoonbank koop as jou voete sat geloop is van inkopies, die verkeersknope dryf jou na waansin en die gesukkel om parkering in sentrums te kry vreet jou op. Dit vereis niks van jou nie, en as jy bietjie sou dut terwyl AFTER THE SUNSET speel, sal jy dalk Pierce Brosnan se borshare mis, maar nie veel meer nie. AFTER THE SUNSET kry 6 uit 10.