After We Collided
After We Collided

After We Collided

Vir tieners is daar ‘n gevry en gesoen wat die silwerdoek laat smeul. Ek het lanklaas so ‘n oordrewe gesoenery, wat die Engelse smooch noem, in ‘n jeugfilm gesien as in AFTER WE COLLIDED. Jonges ken die vryers se geskiedenis. Dis gegrond op die 2014- trefferroman deur Anna Todd, en gaan oor twee verwaande jonges, die beeldskone Josephine Langford, en ‘n vleispaleis wat graag wys waar sy bynaam prikkelprins vandaan kom, Hero Fiennes Tiffin as haar soener. Hy is terloops Ralph Fiennes, die bekende akteur, se seun.

Maar daar swem ‘n derde vlieg in die salf rond om die verhouding te befonkfaai. Dis so swaar om jonk, mooi, slim en aantreklik te wees, en hierdie glanspoppies ly dat die suikertrane drup. En moenie die gouestroopblik vergeet nie. Gaan kyk AFTER WE COLLIDED as jy glo die liefde is ‘n sprokiesverhaal met dik grimering en opgepompte spiere.  Vir my was dit senutergend vervelig – hoe lank kan jy na tieners staar wat vry en ly en gly en verlei, met die wete dat die uiteinde presies sal wees wat jy verwag? Dis vervelig en eentonig.