ALFIE

Hulle sê Jude Law is die wêreld se sexyste man. Net een glimlag en meisies het aptyt vir hom! Hy is die tweede akteur wat gestalte gee aan die seksbehepte ALFIE… julle ken almal die liedjie, “what’s it all about, Alfie?” Jude beantwoord die vraag in kleur, geur, die grits van ritssluiters en die sensuele lig van ‘n Britse wenkbrou. Dis nie naastenby so sexy of gevat soos Michael Caine se weergawe nie. Hoekom gaan mense nog kyk? Wel, om Jude Law te sien. Hy’t sy nuwe smooch, Sienna Miller op die stel van ALFIE ontmoet en daar is lekker vonke tussen die twee.

Maar as jy sensitief is vir seks en taalgebruik, sal Alfie, wat nie ‘n greintjie moraliteit het nie, jou sommer oor die maan laat spring. Dit lewer kommentaar op ‘n rokjagter wat WEL sy lê kan kry, maar weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy dade. Lekker sag op veral die vroulike oog, maar nie so maklik verteerbaar vir die gemoed nie. En daar is sommer ‘n hele rits vlytige vroue vir die manne… As komedie maak dit nie juis hond haaraf nie. ALFIE net as jy nie maklik geskok raak nie én jou los jou morele waardes by die loket.