ANCHORMAN

Jy het DODGEBALL gesien en is lus vir nóg ‘n lekkerlagfliek vol aardse humor en belaglike grappe? Dan is ANCHORMAN vir jou. WILL FERRELL van ELF-faam speel die hoofrol. Daar is niks besonders aan ANCHORMAN nie, behalwe dat dit vir dieselfde gehoor gemaak is wat in DODGEBALL geskater het. ANCHORMAN gaan oor ‘n chauvinistiese televisie-aanbieder wat geskok is as hy ‘n vroulike mede-aanbieder kry. Hy weier om saam met haar te werk, maar Christina Applegate as ‘n jong verslaggewer sal nié deur hom geïntimmideer word nie. Hoe die twee oor die weg kom en die grappe wat op die lug plaasvind, is deel van ANCHORMAN se resep.

Weer eens: nie almal sal hiervoor lag nie. En daar is mense wat sê: wat het dit met my te make wat agter die skerms van ‘n televisiestasie gebeur? Daarom sal diegene in die bedryf meer van ANCHORMAN hou as die man op straat. Maar die grappe is nie vreeslik snaaks nie, en dis net Christina Applegate se vermeteleheid wat my laat grinnik het. ANCHORMAN is tussen die boom en die bas en kry 6 uit 10. Ek sou vir video of DVD wag.