Angela Black (Reeks)

Angela Black (Reeks)

Jy sal naels kou! Jy sal grom: “As ek daardie fielafooi in die hande kry…” Jy sal vir die heldin skree: “Is jy sag in die kop, dame?!” Die reeks is: ANGELA BLACK. En al lyk die plakkaat doodgewoon, is die reeks alles behalwe voorspelbaar. Dit sal jou opkikker en telkens verslae laat oor die onverwagse rigting wat dit inslaan.

‘n Neurotiese, gespanne vrou (pragtig en genuanseerd gespeel deur Joanne Froggatt van Downton Abbey-faam) is in ‘n verhouding waar haar man (ontsenuend sjarmant gespeel deur die Belg, Michiel Huisman) haar mishandel. Gou besef sy dat hy van haar ontslae wil raak, en op onbeholpe wyse veg sy op die verkeerde manier terug. Tot hy te ver gaan. Angela Black is verkwiklik omdat dit vir ‘n verandering ‘n storie vertel sonder dat honderde motors deur die lug tuimel en vuiste harder klap as waatlemoene wat oopgekap word. Dit sal jou tjop-tjop met verrassings en al  in die sak steek.