Army of Thieves

Army of Thieves

ARMY OF THIEVES op Netflix is een van die mees ingeligte, vars en vermaaklike rolprente wat ek vanjaar op ‘n stromingsnetwerk gesien het. Dis ‘n totale en absolute blink, boeiende, onvoorspelbare verrassing. Dit gaan oor ‘n Duitse genie wat kluise se kodes ontsyfer – spesifiek dié wat die komponis Richard Wagner se oorspronklike komposisies bevat. Maar daar is oorspronklike kinkels in die kabel.

Dit is seepglad gemaak met funksionele komiese musiek. Elke skoot tel, clichés word teengewerk en die aksie is nooit oordadig nie, nog minder is daar eksplisiete geweld. Dis ‘n donker komedie met slapstick en die slimste storieslenters vanjaar. Die titel klink dalk na ‘n doodgewone skiet-skop-en-doodbloei-fliek, maar dis uitsonderlik slim en sal ‘n Saterdagaand moeiteloos laat verbyglip. ARMY OF THIEVES word sterk aanbeveel.