Ava

Ava

AVA  is nogal ‘n taai meisie. Jessica Chastain speel gewoonlik rowwe rabbedoes (wanneer het jy daai woord laas gehoor!) maar nou is sy ‘n sluipskutter wat gehuur word om ongewenste vreemdelinge koelbloedig te vermoor, en om dan soos grondboontjie-toebroodjies in ‘n koshuis te verdwyn. Maar in Saoedië-Arabië loop dinge skeef.  Van hier af word sy gejag. Haar vertroueling is John Malkovich wat altyd klink of hy deur dryfsand praat, en haar opponet Colin Farrell.

Mense wat nou al gewoond is aan die supergladde Netflix-reekse en flieks, sal tuis voel hierin. Almal is beeldskoon en sexier as daai meisietjie wat jy elke oggend met ‘n opwiprokkie sien gim toe draf. Mense woerts na eksotiese plekke so maklik as wat jy sjokoladeballetjies eet, die heldin is rats en fiks, en sy breek meer manne se egos en ander dele as Charlize Theron in The Old Guard.

Daar is niks nuuts aan AVA nie, behalwe dat dit jou in ‘n aksie-gemaksone plaas waar dit voel of jy soos ‘n kleuter in jou sandbakkie met jou Dinky Toys-karretjies speel. Die geweld is nogal troebel.