Barakat

Barakat

BARAKAT, die eerste Moslem-Afrikaanse rolprent in Afrikaaps,  is seker die joligste en menslikste komedie van die jaar waaroor ‘n mens juig. Dit laat jou uit jou maag lag, dan is jy hartseer en dan vou jy weer dubbel van uitbundige lag. Vir almal wat platvloerse humor haat, die kuns van BARAKAT is dat daar weinig clichés is om mense te soebat om te grinnik. Hier is nie sprake van lui-skryf nie. Lui-skryf beteken, as jy bang is mense lag nie, laat iemand ‘n wind, uiter ‘n kragwoord of raak homofobies. Nie in BARAKAT nie.

‘n Waardige moeder (Vinette Ebrahim) met ‘n uitgebreide gesin wil met ‘n waardige dokter trou, maar die gesin weier om hom te aanvaar. Die enigste swakplek was hoekom die familie nie van hierdie wel-opgevoede man hou nie. Die gesin  se onderonsies en die jakkalsies wat aan hakskene hap, maak van BARAKAT ‘n string komediepêrels wat jy om jou nek kan hang.

Die spel is onverbeterlik, die draaiboek is hoe Afrikaanse komedie kan lyk as mens fluks skryf en menslikheid en situasies die lagspiere laat prikkel, nie kruheid nie. BARAKAT sal jou omklits. Moenie dat enigiets jou hiervan afsit nie, veral nie vooroordeel nie. BARAKAT, wat in die Kaapse Moslem-gemeenskap afspeel, is buitengewoon humoristies en oorweldigend goed.