BIRTH

‘n Groot skokfliek begin vandag, genaamd BIRTH. Wees uiters versigtig vir hom. As jy nie by STAR WARS kan inkom nie, moenie goedsmoeds by BIRTH inhardloop nie… ook nie as jy NICOLE KIDMAN se naam sien nie. Want baie mense, veral in die buiteland, het die fliek geskok na ‘n halfuur verlaat en by die bestuurder gaan kla.

Dit gaan oor ‘n vrou, Nicole Kidman, wat haar man verloor. Tien jaar later daag ‘n tienjarige seuntjie by haar voordeur op en kondig aan dat hy verlief is op haar en met haar wil trou. Dit klink miskien snaaks. Maar BIRTH is beslis nie ‘n komedie nie. Die seuntjie word simbolies van hoe die vrou haar smart probeer ignoreer het. Nou dat dit in lewende lywe voor haar staan, versinnebeeld hy alles wat sy probeer ignoreer en wegsteek het. NOU moet sy met haar smart vriende of vrede maak. Sal sy kan?

As jy BIRTH uit daardie oogpunt benader, sal jy die rolprent, en sy kontroversiële tonele oorleef. Maar as jy gaan om na Kidman te kyk of omdat dit na ‘n liefdesverhaal klink, sal jy uiters geskok wees. Ek beveel dit aan vir mense wat oopkop na kunsprente gaan kyk, maar WAARSKU teen Birth as iets soos CLOSER jou die berge oorgejaag het.