Black Bird (Reeks / Apple TV+)

Black Bird (Reeks / Apple TV+)

‘n Jongman word tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Om sy vonnis te versag, word hy gedwing om saam met ‘n reeksmoordenaar (ontsenuend briljant gespeel deur Paul Walter Hauser) in die tronk in te trek, soms selfs ‘n sel te deel. Sodoende moet die jongman probeer uitvind waar die moordenaar 18 lyke versteek het, sodat daar getuienis teen hom is.

Moenie die gewone alledaagse oppervlakkige reeks oor reeksmoordenaars verwag nie. BLACK BIRD is die ware Jakob. Die atmosfeer is so beklemmend dat jy amper daarin verstik, maar dis briljant gedoen.

Taron Egerton as Keene moet staalharde senuwees hê om hierdeur te kom en nie self vermoor te word nie. En hy moet die reeksmoordenaar se vertroue wen. Dit gebeur alleenlik as hy  ‘n monster kan bevriend, want dis hierdie tonele wat die reeks eintlik so onvergeetlik maak. BLACK BIRD is een van die beste televisiereekse wat nog gemaak is. Dis baie ontstellend.