BRIDGERTON (Reeks)

BRIDGERTON op Netflix gaan oor die magtige en elegante Bridgerton-familie in Engeland, waar die popmooi hubare dogters van die adellike gesin desperaat na ‘n man soek. Natuurlik is daar prinse, grawe, konings en edelmanne wat om hulle hande baklei, maar Phoebe Dynevor as die heldin het net oë vir die robuuste en manlik-eksotiese Regé-Jean Page as die koppige graaf, wat eers sy hand vir Daphne aanbied, en dan tot ander insigte kom. Elke borshaar is presies gekam en gejel. Hoekom die reeks so gewild is? Want dit is ‘n soort moderne weergawe van Downtown Abbey, net  sonder die stewige storie, eksentrieke karakters en blink kasteel waarin dit af speel. Jy vergaap jou eintlik aan die skoonheid waar elke vertrek soos ‘n Victoriaanse poskaart lyk, elke meisie Aspoestertjie-fraai is en elke man sy hemp en meer uittrek wanneer die storie te stadig raak. En kan die klomp dans in hierdie reeks deur Shonda Rhymes van Grey’s Anatomy-faam!

Dit is vla vir die oë en jellie vir die brein. Jy staar maar net na ‘n magdom adelikes wat skinder, dans, man soek, liefde maak en mekaar se hande in die as probeer slaan. Vir my is dit net 5 uit 10 werd omdat ek dit regtig vervelig gevind het sonder ‘n snapsie opwinding, maar gehore is absoluut gaande daaroor en kan nie ophou kyk of hulle vergaap aan die skoonheid nie. Vir jou mag dit 8 uit 10 wees.