CELLULAR

‘n Taai fliek wat ook vandag begin, is CELLULAR. Nou weet ek studente begin nesskop om te swot vir die jaar wat voorlê… of so hoop ek, maar Vrydagaand is mos laaglê-aand en voor die ouens en meisies die dorp pimpel-en-pers verf, verdrink hulle gewoonlik hul sorge in springmielies en flieks. En daarvoor is CELLULAR ideaal. Hulle behoort met die hoofkarakter te identifiseer.

Luister na hierdie scenario. ‘n Beeldskone vrou, Kim Basinger, word ontvoer. Sy slaag daarin om ‘n selfoonoproep te maak. ‘n Loslyf, straatwys laitie, antwoord. Hy is haar enigste hoop om van ‘n gewisse dood gered te word. Maar sal sy sel se battery lank genoeg hou?

Nou kyk, as jy van stories oor die werklikheid hou, is CELLULAR hoegenaamd nie vir jou nie. Want laat ons eerlik wees. Dit is omtrent so realisties soos ‘n taxibestuurder wat padreëls gehoorsaam. Maar dis ‘n super-vermaaklike pretparkrit wat jou letterlik jou stoel sal laat deurrits. Jy WEET dis onmoontlik en jy weet, om die Engelse uitdrukking te gebruik, jy word vir ‘n RIDE gevat. Maar ai, dis ‘n lekker rit hierdie, slaggate en al!

CELLULAR het mooi mense wat in knap situasies beland en is net reg as jy nie by HITCH kan inkom nie, wat orals uitverkoop gaan wees. CELLULAR, in die kol as jy jonk van gees is en net pret wil hê. Taalgebruik kan pla.