Clickbait (Reeks)

Clickbait (Reeks)

Ek was lanklaas so ongelooflik vermaak deur ‘n reeks soos CLICKBAIT. Die storie is só oorspronklik, dat ‘n mens die draaiboekskrywers wil loof vir hulle vindingrykheid en I.K.’s wat hoër as hulle rekenaars gestyg het. Die reeks skop af met ‘n hoërskoolonderwyser wat ontvoer word en met flitskaarte voor ‘n kamera sit waarop staan: Ek mishandel vroue. Ek het ‘n vrou vermoor. Indien vyfmiljoen mense hierna kyk, sterf ek. En onmiddellik begin die kykerstalle styg en die familie word rasend.

Die reeks gaan ook oor die gesin en vriende van die onderwyser wat verstom is dat die sagmoedige man (gespeel deur Adrian Grenier) so iets kon aanvang. Dit gaan ook oor die bloeddorstige publiek se reaksie. Maar wees verseker, daar is meer kinkels in die kabels as in jou skoenveters ná ‘n drafsessie. Hier gaan dit om vooroordele, verraad, ‘n vasbeslote, deeglike ondersoek, hegte familiebande en die grusaamhede wat mense aanvang. Maar boeta, is CLICKBAIT vermaaklik. Dit sal jou laat vraatkyk vir ure lank.